Posts filed under ‘Uncategorized’

Ek wil toor

Akrakedapra.  Open Sesame.  Kul jou hier en kul jou daar.  Wie weet wat die regte towerwoorde is?  Dalk is dit tog Asseblief en Dankie soos ons as kleuters geleer is. 

Waar leer ‘n mens tog toor?  Nee, ek wil nie ‘n heks of ‘n toordokter wees nie.  Hulle moet allerhande verse leer en brousels kook en dit dit klink na baie werk.  Ek wil net my vingers klap en dit moet gebeur.  Geen ingewikkelde truuks wat die oë verblind nie.  Dit moet regtig wees, anders is dit nie ongewoon nie.  Ek is gek oor die ongewone.

Al is dit net ‘ntipe towerkuns.  Ek is nie vraatsig nie, een spesiale kuns wat niemand anders kan nie, sal doen.

Blogvraag:  Identifiseer die liedjies.

Blogantwoord:  Max was reg met ‘n BA in Engels.

P1000870

September 26, 2009 at 6 : 00 46 Kommentaar

Grootskerm vonk

Nou die dag vra iemand my wie ek dink die beste chemistry op die silwerdoek het.  Dit is selde dat ek nie ‘n antwoord op iets het nie, maar ek kon met die geleendheid nie ‘n goeie antwoord gee nie.  Bloot omdat ek nooit daaroor gedink het nie. 

Die logiese deel van my meng nie fiksie met die werklikheid nie.  Wat dus in ‘n storie gebeur, dra ek nie oor na die regte lewe nie.  Die regisseur het gesê dat hulle moet soen en dit is hoekom hulle gesoen het.  Dit was ‘n werk, ‘n opdrag wat uitgevoer is.  Daar het nie sterre ontplof nie en daar was geen romanse betrokke nie.  Soos ek die storie verstaan is dit baie tegnies.  Die kamera is blykbaar baie veeleisend – juis omdat die soen mooi moet lyk.

Tog, as ‘n mens na die regisseurs se kommentaar kyk / lees, word die hoofkarakters juis gekies oor die vonk tussen hulle.  Hulle moet chemistry wys of die passie gaan dood op die skerm lyk.  Dus behoort ‘n mens te weet wie maak vir jou ‘n mooi paartjie op die skerm.  Ek pleit dat ek onromanties is.  Julle het nie daardie verskoning nie.  Dus vra ek julle vandag:  Wie is jou gunsteling groot skerm paar?

Net gou om die denke aan die gang te sit.  Meg Ryan en Tom Hanks het ‘n aansienlike hoeveelheid flieks saamgemaak.  Ek dink byvoorbeeld aan Sleepless in Seattle en You’ve got mail.  Daar is ook Julia Robberts en Richard Gere wat al amper aan die heup gebind is.  Dit het baie goed gewerk in Pretty Woman en Runaway Bride.  Nog ‘n reekspaartjie is Sandra Bullock en Keanu Reeves.  Dink ook maar aan Tom Cruise en Nicole Kidman.  Ek dink Kate Hudson en Matthew McConaughey was al meer as een keer afgepaar.  Plaaslik dink ek aan Anna-Mart van der Merwe en Dawid Minnaar en natuurlik ook Sandra Prinsloo en Marius Weyers.

Daar is natuurlik daardie pare wat in een fliek die mense aan die gons gehad het.  Die bekendste voorbeeld is natuurlik Angelina Jolie en Brad Pitt.  Ben Af-Lek (skuus ek bedoel Affleck) en Jennifer Lopez het ook maande lank tydskrifte laat verkoop, al was Gigly uiters swak.  Mense AAAAA nou nog oor Demi Moore en Patrick Swayze in Ghost.  John Travolta en Olivia Newton-John kry ook ‘n eervolle vermelding.  Amper vergeet ek van Renée Zellweger en Colin Firth.

Daar is so baie moontlikhede, maar wie kies jou.  En as ek dit ‘n stap verder kan vat, watter fiktiewe verhouding dink jy sou hou verewig? 

Blogvraag:  Watter graad het Renée Zellweger in 1991 behaal?

Blogantwoord:  Willes was reg met Abram Lyley.

September 25, 2009 at 5 : 39 75 Kommentaar

Stroop

Laat ek vir een keer in my lewe ‘n resep met julle deel.  Neem ‘n brood (verkieslik bruin) en sny ‘n dik sny af.  Dit moet ten minste 2 – 3 cm dik wees.  ‘n Regter skaapwagter sny.  Smeer dit dik met botter of margarien soos jy verkies.  Smeer nou grondboontjiebotter op en rond die af met ‘n laag stroop.  As jou tone nie nou omkrul van lekkerte nie, is daar beslis iets fout met jou.

Stroop het ‘n beslisde plek in die kombuis.  Dit maak nie net lekker broodjies nie, maar dit is ‘n kern bestandeel van fudge en verskeie koekies.  Smeer egter daardie selfde stroop aan iemand?  Of eet selfs net jou broodjie klaar en voel hoe taai is jy dan.  Daardie taaiheid klou lank nadat jy jou hande gewas het.

Soos sekere mense.  Julle weet noual dat ek ‘n hekel aan oorvriendelike mense het.  Stroop mense vat dit ‘n stappie verder.  Dit is skat voor, liefie in die middel, vlooi in die middel, engel in die middel, sweetie in die middel, baby in die middel, sussie in die middel en (as iemand jou genadig is) pop aan die einde.  Die heuningkwas kry bloot net nie einde nie.  Al bid jy hoe hard. 

Dit is nie net die woorde wat hulle gebruik nie.  Die oomblik wat hulle tande wys (en dink hulle glimlag) spoel die stroop bo-oor jou.  Dit is seker hulle metode om jou vas te vang, sodat hulle al jou energie kan steel.  Jy moet gewoonlik hoor watter wonderlike mens jy is.  Valslik word jy opgehemel.  Die plan is dat jy moet dink hulle is wonderlik, want die stroperigheid het ‘n prys.  Gewoonlik soek hulle iets.

Die een ding wat soos ‘n paal bo water uitstaan met die mens is dat jy moet gaan bad wanneer jy jouself kan bevry. Jy gaan sukkel om van die taaiheid ontslae te raak en gaan vir lank daarna steeds naar wees.

Nie almal wat liefdeswoorde gebruik is stroperig nie.  Vir party mense is dit bloot ‘n manier van praat.  Die groot onderskeid is dat jy nie taai voel daarna nie.

Hoe voel julle?  Ken julle sulke mense?

Blogvraag:  Wie het goue stroop uitgevind?

Blogantwoord:  Christ’s Hospitaal (en ja, dit is die naam van ‘n skool).

September 24, 2009 at 5 : 49 28 Kommentaar

Sokkie Tan

Verstrooid is mos een van my vele middelname.  So pak ek nou die dag weer alles om te gaan gim, maar vergeet my sokkies.  Terug huis toe ry is nie eers ‘n opsie nie.  Tekkies sonder sokkies ook nie.  Dit is maar ‘n bra flou verskoning om nie te gaan gim nie, dus moes ek maar ‘n paar sokkies gaan koop.  Siende dat ek nogal ‘n wavrag vol sokkies het, koop ek toe die eerste, beste en goedkoopste paar wat ek sien.  Toevallig ‘n paar wit sokkies. 

Na skool het ek nog nooit weer wit sokkies gehad nie.  Die paar wat ek gekoop het is nou wel nie skoolsokkies nie, maar dit het my aan skoolsokkies laat dink.  In my dae was daar ‘n onfeilbare manier om ‘n hoërskool dogter uit te ken.  Bruin bene met spierwit voete.  ‘n Laerskooldogter het nie juis skoene gedra nie, dus was hulle in ‘n groot mate van ‘n sokkie tan gespaar. 

Die son het nie net ons bene gemerk in skool tyd nie.  Na skool het ons almal met sokkies en tekkies geloop.  Ek kan nie onthou of dit mode of net prakties was nie.  Prakties, want vir die meeste skoolsporte het jy met tekkies deelgeneem.  Self ek wat nie die wêreld se grootste sport geesdriftige was nie, het ‘n aansienlike tyd op die sport velde deurgebring.

Ons het ons sokkies nooit tot hulle volle lengte opgetrek nie.  Net ‘n st 6 dra hulle sokkies so en niemand wil na daardie dae terug nie.  Die norm was eerder om hulle twee keer om te vou.  Wat basies beteken het die sokkie eindig kort bokant jou enkel. 

Ek kan ook baie goed onthou hoe lank dit geneem het om my bene en voete dieselfde skakering te kry.  Wat my nou eintlik interesseer, is dat ek nie kan onthou wanneer laas ek ‘n meisie met ‘n sokkie tan gesien het nie. 

Wat sal die rede daarvoor wees?  Ek meen, meisieskooldrag het nie soveel verander nie.  Meisies word seker nog steeds verplig om hier en daar aan sport deel te neem.  Selfs met geheim sokkies sal hulle voete steeds wit wees.  Miskien kyk ek net teen my ooglede vas.  Ek sien die meeste skole laat nog langbroeke enige tyd van die jaar toe.  Dit kan die verskynsel verduidelik.  Sonbeddens is ook baie meer beskikbaar as ‘n paar jaar gelede.  Dalk gaan hulle ook nou kaalvoet skool toe.

Wat dink julle?  Het julle sokkie tans gehad?  Wat was die reëls in verband met julle sokkies en skoene en het julle dit gevolg?  Vir hoeveel jaar lank het jy nog skoolsokkies gedra na skool?

Blogvraag:  Aangesien skooldrag in SA die nalatenskap van die Britse kolonisering is, wat was die eerste skool wat bluecoats geimplimenteer het as skool drag?

Blogantwoord:  Willes was reg met Douglas Adams

September 23, 2009 at 6 : 10 24 Kommentaar

Wat sou jy gedoen het?

Vanmiddag is ek een van ‘n swetterjoel karre in ‘n een rigting straat.  Almal het dit ten doel om die stad se stof so gou as moontlik afteskud.  Ek is in die derde baan van links, dus die tweede baan van regs.  In die middel van die pad sodat mense wat dubbelparkeer my nie in die voet skiet nie.  Ek kan dus ry, maar kan dit nie waag om te stop of om skielik stil te hou of parkeer nie.

Die kruising is geseën met ‘n verkeerslig wat saamwerk.  Teen die tyd wat ek by dit kom, is dit groen en kan ek net aanry.  Dit is waar ek haar opmerk.  Aan die oorkant van die kruising aan die linkerkant, besig om te ryloop. 

Goed, dit is nie die eerste keer dat ek iemand sien ryloop nie.  Laat ek haar probeer beskryf en dan sal julle dalk verstaan.  In die eerste plek is dit ‘n kind.  As ek aan haar skraal lyf en plat bolyf moet oordeel skat ek haar niks ouer as 14 nie.   Aan haar kleredrag kan ‘n mens sien dat sy ongekunsteld is, sorgeloos wel.  Die manier waarop sy geryloop het was opvallend.  Haar ongeduld het boekdele gespreek elke keer wat iemand verby gery het en die duim geignoreer het.  Ek het die gevoel gekry dat sy haastig oppad was iewers en dat as daar nie gou iemand stop nie, is sy in die moeilikheid.  (In die paar sekondes wat ek haar gesien het.)

Ek het verby gery.  Die verskoning is dat ek reeds baie laat was en dat omdraai geen maklike oefening sou gewees het nie.  Dit sou my ‘n goeie 10 minute of langer geneem het om weer daar uit te kom en dan kon sy al lankal geholpe gewees het.

Ek weet wel wat ek graag sou wou doen.  Ek sal juffroutjie met graagte opgetel het en op haar ma se skoot gaan aflaai het.  Die kruising waar sy was is uiters gevaarlik.  Die meerderheid voertuie was trokke en afleweringsvoertuie.  Dus bestuurders wat gewoond is om meisie op te laai – teen ‘n prys.  Ek is nie so seker dat sy bewus is van die prys of bereid is om dit te betaal nie. 

Dit was ‘n uiters onverantwoordelike ding gewees om te doen.  Ek het nogal ‘n gevoel dat sy glad nie veronderstel was om daar te wees nie.  Anders sou haar ouers haar mos kom haal het of gereel het vir vervoer.  Hopenlik kom sy ongeskonde daaruit.  Dinge kan wel baie lelik raak en dit is iets dat sy en haar ouers behoort te besef.

Wat sou julle gedoen het in my skoene?

Blogvraag:  Wie was die skepper van ‘n Hitchhiker’s Guide to the Galaxy?

Blogantwoord:  Olga was reg met Maurice Wilks.

September 22, 2009 at 5 : 54 91 Kommentaar

Parkeer jou SUV waar die son nie skyn nie

As ‘n mens die kwaliteit van paaie meet aan die aantal viertrekvoertuie per vierkante meter, watter deel in Suid-Afrika het die swakste paaie?  Sandton, Gauteng natuurlik.  ‘n 4×4 is ‘n nuwe statussimbool.  Dalk nie om mense te verdeel ten opsigte van ryk, middelklas en arm nie.  Die sleutels van jou 4×4 is eerder ‘n teken van ek is waar ek moet wees.  Ek is gevestig. 

Deesdae wanneer die eersteling oppad is, word daar vinnig gedraf na die naaste motorhawe.  Die huidige luukse motor is te ongemaklik om ‘n karstoeltjie agter in te druk.  Wel miskien één stoeltjie, maar dit is ‘n saak van onmoontlikheid om twee stoeltjies in te kry.  Is die agterste sitplek regtig soveel groter?  En maak die feit dat dit hoër is werklik ‘n wesenlike verskil?

Die ander ekskusie is die toestand van die land se paaie.  Dit is blykbaar onmoontlik om met ‘n standaard motor van punt A tot B te kom.  ‘n Mens se kanse op oorlewing is blykbaar beter in ‘n 4×4 omrede ‘n mens hoër sit.  Jy kan ook makliker bo-oor ‘n sypadjie klim as dit nodig is om ‘n kaper te ontduik.  Jy kan ook ‘n kaper doodry en verder jaag as dit nodig is.  Almal is ook skielik off-road entoesiaste.  Hulle gaan in die toekoms elke moontlike en onmoontlike terrein met hulle nuwe wiele verken.

Goed en wel.  Dit is seker jou saak as jy graag jou geld wil mors.  Ek het wel nie ‘n probleem met die tipe voertuie nie, maar ek het wel ‘n probleem met die sertifikaart wat hulle saam met die voertuie kry.  Die sertifikaart wat hulle alleenreg op die pad gee.  Ek het VERAL ‘n probleem met die feit dat SUV’s nie deurskynend is nie.

Eerstens vergeet die bestuurders dat hulle ‘n bakkie het wat daadwerklik groter as ander karre is.  Dit kan nie orals ingedruk word nie.  Jy blok die verkeer as jy met jou logge vaartuig wag om regs te draai.  Ons gewone siele kan nie deur julle kyk om te sien of daar aankomende verkeer is nie.  Volgafstand is wetlik voorgeskryf.  Net omdat jy almal uit die pad uit kan stamp, beteken dit nie dat jy soos ‘n Charlize Theron in ‘n Mini deur almal kan vleg nie.  Wag jou beurt af.  Net omdat jy ‘n 4×4 ry, beteken dit nie dat jy op die stuk veld kan ry om voor almal te gaan indruk nie. 

Ek wil eintlik ‘n voorstel maak.  Kan iemand viertrekspesifieke parkering skep?  Eerstens gebruik hulle aansienlik meer ruimte as ‘n kar.  Tweedens kan geen normale mens verby hulle sien as jy die parkering moet verlaat nie.  Jy moet maar op geloof uit.  Derdens parkeer hulle so, dat ‘n mens nie in of uit jou eie kar kan kom nie.  Sien, hulle het ‘n aansienlike deel van jou parkering ook nodig.  En glo my, hulle sal sonder die nodige versigtigheid met gemak in hulle bakkie kom.

Hoekom?  Dit is eenvoudig.  Hulle kar is duurder as joune, dus hoef hulle nie jou kar te respekteer nie.

Blogvraag:  Wie was verantwoordelik vir die ontwikkeling van die Landrover?

Blogantwoord:  Olga was reg met kwashiorkor.

September 21, 2009 at 5 : 41 42 Kommentaar

Die verkeerdste ding

Daar is dae waar ‘n mens se oë baie groter as jou maag is.  Waar jy meer kos voorberei / opskep as wat jy moontlik kan eet.  Goeie mens wat jy is, bêre jy dit maar in die yskas.  Saam met al die vrugte en groente wat jy gekoop het.  Om van die suiwel en eiers nie te vergeet nie. 

Soos dit maar gaan, eet jy partykeer onbeplan elders.  Met die gevolg dat jou yskas nie die aandag kry wat dit verdien nie.  Die kos in jou yskas word slymerig, frummelrig of bloot net oud.  Sodat jy dit nie meer kan eet nie.  Jy is dan in die posisie waarin jy oorspronklik was.  Jy weet dat jy dit nie gaan eet nie, maar voel te sleg om dit weg te gooi.  Die kos weggooi word nie beter net omdat dit bederf is nie.

Elke keer wat ek kos moet weggooi, sien ek ‘n pens met stokkie bene en arms wat ‘n jong kind is.  Een wat nie die luukse het om neus te kan optrek nie.  Wat moet eet wat hulle kry, want dit is moontlik al wat hulle van ‘n gewisse hongerdood red.  Die koppie melk wat suur geword het, is vir my ‘n frustrasie.  Vir hulle is dit ‘n koppie melk wat ‘n ongekende luukse is.  Die rys wat ek nie meer wil eet nie, kan een van hulle se somtotaal van kos wees. 

Aan die ander kant, daar is net soveel wat een mens kan eet.  Om kleiner porsies te koop is nie altyd moontlik nie.  Kaas word in blokke verkoop.  As jy ‘n gereg wil maak wat kaas bevat, gaan daar noodwendig ‘n stuk oorbly.  Jy gaan dit nie dadelik weer gebruik nie, met die gevolg dat dit gaan bederf.  Vars produkte word in familie grotes verkoop, glad nie vriendelik vir enkellopendes nie.

Ja, vries is ook ‘n opsie.  Kanse is goed dat jy daarvan in jou vrieskas gaan vergeet.  Of dat die hoeveelheid te min gewees om ontvriesing te regverdig.  Die gevolg is dat jy dit wel op die einde gaan weggooi.

Daar is ook blatante kos mors.  Die vrou wat haar vererg omdat haar man laat is en sy kos in die asblik gooi.  Erger nog, kos wat vir speletjies aangewend word.  Dink byvoorbeeld aan eierresies, eiergooi of ‘n kosgeveg.

In my oë is dit baie verkeerd.  Onregverdigbaar verkeerd.  Hoe voel julle daaroor?

Blogvraag:  Die groot magies, met maer armpies en beentjies, is ‘n kenmerkende simtoom van ‘n proteien te kort.  Wat word die siekte genoem?

Blogantwoord:  Midnight Special – CCR (Middernag afslag);  Simply Irresisitible – Robert Palmer (net onweerstaanbaar); Paint it Black – Rolling Stones (Max)

Bonuspunte:  Max:  irresisitible – the corrs; midnight – pitbull; six weeks – enertia; suddenly – ashley tisdale; mr sandman – chordettes; nothing’s gonna stop me now – samantha fox; shold – slayer; proud – heather small; the future – leonard cohen; evil – interpol; white elephant – bride; feed – sevendust.  Willes:  late night – mario;  waste of time – fm static;  credit card – silage; 6 weeks – jamendo;  realise – colbie gaillat;  owner – soulja boy tell em;  shopping – pet shop boys;  understand – christina aguilera;  time – pink floyd;  whoomp there it is – tag team;  unstoppable – kat deluna.

Foto:  Max:  eye of the tiger – survivor; tigger – peter sommer;  wonderful tigger – disney tigger movie sountrack;  how to be a tigger – tigger movie soundtrack;  the rum tum tigger – andrew lloyd webber; tigger and the gizzle – ginuwine; big tigger live on the radio – lil’ wayne; the wonderful thing about tiggers – tigger movie soundtrack; Willes:  Tiger – ABBA; Neon tiger – killers; night tiger – picture; Taming the tiger – joni mitchell; Tiger teeth – paper route; animal – rem; incredible animal – the prostitutes; Bad animals – heart;  pill poppin animal – lil wayne;  treat me like an animal – parr john;  manor animal – audioslave; the cat’s pajamas – iwrestledabearonce; the beast – tech n9ne; beast – wolfgang;  i’m a beast – r. Kelly;  your adorable beast – bare jr.

September 20, 2009 at 2 : 58 59 Kommentaar

Kopers spyt

Internet inkopies is ‘n euwel.  So verstaan ek maar, ek het geen persoonlike ondervinding daarmee nie.  Dit is laat aand en jy mors tyd om op die internet rond te krap.  Daar is dit:  Middernag afslag.  ‘n Kopie wat net onweerstaanbaar is.  Die krediet kaart is naby en niks keer jou nie. So word jy die trotse eienaar, trots genoeg dat klaasvakie sy werk kan doen.

6 weke later land dit op jou drempel.  Skielik besef jy dat jy sopas ‘n wit olifant ryker geword het.  Iets wat jy eintlik nie wil hê nie en glad nie kan gebruik nie.  Dit is nie eers besonders mooi nie.  Verf dit swart klink na ‘n blink plan, maar dan het nog steeds nie plek nie.  Ongelukkig is daar in Suid-Afrika ‘n krakerwa nie.  Jy moet die olifant in ‘n stal druk en voer tot ‘n tambola in die toekoms.

Blogvraag:  Identifiseer die liedjies.

Blogantwoord:  Dit verwys na al die “cons” wat Danny Ocean se span moes doen om die Casino te roof. 

P1000924

September 19, 2009 at 6 : 00 51 Kommentaar

Nuwe loopbaan

Die Engelse sê:  If you can’t beat them, join them. 

Die algemene publiek het al aanvaar dat misdaad ‘n algemene gebeurtenis gaan bly.  Die nuus van ‘n moord of verkragting is al soos nuus van die weer.  Tensy jy (of ‘n geliefde) die slagoffer was, traak dit jou nie juis nie.  Cele het belowe om die misdadigers vas te vat.  Wat is die lesser evil, om aan misdadigers uitgelewer te wees of om aan ‘n Polisie mag uitgelewer te wees wat eers skiet en dan vra.

Almal weet hoe voel ek oor Polisie Brutaliteit.  Buitendien betaal hulle heeltemaal te min.  As ek moet join, join ek die misdadigers.  Hulle is juis op die oomblik die wenspan.  Wie het al van ‘n misdadiger gehoor wat papierwerk moet afhandel?  Hulle kry ook nie ontydige opleiding nie en hulle woon nooit vergaderings by nie.  Wat jy in die loopbaan insit, is wat jy uitkry.  Jy is ook gewaarborg om ‘n kick uit jou loopbaan te kry.  Die enigste probleem is waarin spesialiseer ‘n mens?

Kapery is blykbaar baie lonend.  Ek het persoonlike ondervinding van hoe lekker ‘n straat resies kan wees.  Al wat jy hoef te doen is om iemand uit hulle kar te boender en dan weg te ry.  Maklik.  Die probleem is hoe om ‘n betroubare afsetgebied te kry vir jou buit.  Ek wil mos nie karre versamel nie.  Verkope klink na werk.  Dus word die idee geskrap.  Dieselfde probleme met dwelmhandel. 

Ek was nog altyd ‘n groot bewonderaar van klouterdiewe.  Soos ek die storie verstaan moet jy net ‘n agent hê om as ‘n bemiddelaar te wees.  Ongelukkig is ek nie soepel nie en ook nie baie lief vir hoogtes nie.  Ek het nie die grasie van ‘n kat nie en ek is nogal lomp.

Doodgewone bedrog is nie net vervelig nie, maar ek voel nie gemaklik daarmee om geld te steel nie.  Die meeste witboordjie misdadigers steel van die mense wat dit juis nie kan bekostig nie.  Daarmee sal ek nie kan saamlewe nie.  Ek hou nie daarvan om met syfers te karring nie.  Dit klink na ekstra werk.  Daar is seker die moontlikheid om van die staat, banke, selfoonmaatskappye of versekering te steel.  Ongelukkig steel jy dan van jouself en jy sal vir die verlies moet vergoed. 

Sluipmoordenaar is nog iets wat goeie vrugte kan lewer.  Jy moet net die eerste keer raak skiet en vinnig met jou wapen en al kan verdwyn.  My gewete is glad nie te sprake nie, ek gaan mos net slegte mense skiet.  Ek weet nie hoe volhoubaar dit is nie?  Ek steek gewoonlik soos ‘n seer duim uit, dus sal my loopbaan maar kort wees.

‘n Verneukkunstenaar is ook ‘n moontlikheid.  Dit verg fyn beplanning, maar die beloning is so die moeite werd.  Jy moet net nie gevang word nie.  Jy kan elke dag iemand anders wees.  Was dit nou nie vir my afpissende persoonlikheid nie, het ek dit sterk oorweeg.

Daar bly dus net ontvoering oor.  Ek sal nou nie juis die kinders seer maak nie, maar wat doen ek as hulle ouers nie wil betaal nie.  EUREKA!!!  Ek het dit!!!  Ek gaan vir Julius Malema ontvoer.  En ek gaan hom nie loslaat tot sy ondersteuners my genoeg betaal nie.  Let op die woord – genoeg.  In die tussentyd gaan ek hom loslaat as sy vyande my nie genoeg betaal nie.  Ek dink ek sal in weelde kan lewe met die plan.

Is jy ‘n joiner?  Wat is jou plan van aksie?

Blogvraag:  

In Ocean’s Eleven, sê Rusty:  

Off the top of my head, I’d say you’re looking at a Boesky, a Jim Brown, a Miss Daisy, two Jethros and a Leon Spinks, not to mention the biggest Ella Fitzgerald…ever.

Waarna verwys hy hiermee?

Blogantwoord:  Kirschwasser

September 18, 2009 at 5 : 31 113 Kommentaar

Have your cake . . .

Vir die doel van vandag se skrywe, is ‘n koek sommer ook ‘n tert.  En ek praat van regte koeke.  Soos in eiers, suiker, meel en melk.  ‘n Soete verleiding wat ‘n mens moeilik kan bedank, maar wat pylreguit om die heupe gaan sit. 

Vra enige lukrate persoon wat sy / haar gunsteling koek is, is die kanse goed dat dit sjokolade koek gaan wees.  As die persoon wel nie van koek hou nie, gaan hy/sy wel hulle voortande opoffer vir ‘n stuk melktert.  Daar is bittermin mense wat ‘n stukkie gebak nie gaan waardeer nie.  Dit hang natuurlik ook af van wie die bakker is.  ‘n Mens bak goed of sleg.  Daar is niks tussenbeide nie. 

Tog is daar soveel meer as net sjokolade koeke.  Buitendien kom ‘n sjokolade koek in soveel verskillende vorms, dat dit nie so eenvoudig is nie.  Toegegee, die basis bly ‘n sjokolade sponskoek, maar die versiering maak al die verskil in die wêreld.  Ek meen, ‘n Kalua Cappuchino Koek is nie ‘n sjokolade koek nie.  As jy so dink, het jy dit nog nie geproe nie.  Dan praat ek nie eers van Death by Chocolate, Chocolate Mouse of Caramel Chocolate nie.

Juis omdat mens sjokoladekoek onder elke bossie kan uitskop, verkies baie mense vanilla koeke.  Dit is ook moontlik om die beste van twee wêrelde te geniet, dus ‘n koek wat deels sjokolade en deels vanilla is.  Die naam het my nou ontgaan.  Wanneer mens besef dat die kleur van die koek afhanklik is van die geur middels, is die moontlikhede legio.  Koffiekoeke, pienk, blou, geel of groenkoeke is alles moontlik.

Swartwoud koeke is ook ‘n baie gewilde keuse.  Om wortelkoeke – my persoonlike gunsteling – nie te vergeet nie.  Mense sal ook hulle siele verkoop vir ‘n Pepperment Crisp, appel, pekaneut of Suurlemoenskuimtert.  Wag, laat ek eerder nie op terte begin nie, julle hoor dalk nooit die einde nie. 

Die interessantste koek wat ek al geëet het was ‘n papawersaad koek.  Soos van die naam afgelei kan word, bevat die koek papawer saad.  Dit is dus ‘n wit koek vol blou spikkels en ja, dit was ‘n baie lekker koek.

Soveel plesier as wat ‘n koek kan verskaf, is daar niks ergers as om ‘n slegte koek af te wurg nie.  Die gasvrou roem op haar meesterkoeke waaroor almal glo vuisslaan.  Jy kan dit goed glo, hulle baklei sodat daar nie ‘n krummel oorbly wat geëet moet word nie. 

Wat is jou gunsteling koek?  Kan jy self bak en wat is jou spesialiteit?  Wat was die slegste koek wat jy al moes afwurg?

Blogvraag:  Watter alkoholiese drank word tradisioneel by ‘n Swartwoudkoek gevoeg?  (Ek soek die naam, nie die tipe alkohol nie.)

Blogantwoord:  Maxie was reg met Cosatu.

September 17, 2009 at 5 : 31 28 Kommentaar

Older Posts


Rosies vir Little Angels

Photobucket
The ARK; Standard bank; Hermanus ReK no: 085133698; Takkode: 050312

Rooflesers

website counter

Liedjie Doring Augustus – Max

Liedjiedorings September

Willes: 100

Olga: 13

Max: 37.5

Wip: 8

Kaneels: 2

Spesies

Potpourri

Posduifhok

amaal3@gmail.com

Gevreetjie Fabriek

http://en.gravatar.com/

Facebook

Dorings en Soms Rose het 'n groep op Facebook gestig. Soek ons gerus op.

Hoe vaar ons?

ZA TOP Sites
saTopBlogs.co.za