Die Reëls

Ek dink die groen blaartjies tussen die Dorings en Rose dalk so ‘n bietjie verlore kan voel oor die Saterdagaand spelletjie.  Daarom het ek besluit om die reëls te verduidelik.  Dit is ook makliker om te sê loer bo as om dit te verduidelik. 

Die spelletjie word Liedjiepret genoem.  Die klem op pret.  Dit is daar om ons ‘n bietjie pret te verskaf op ‘n Saterdagaand.  Spelletjies bly lekker, of jy nou nog in doeke rondloop of 100 jaar oud is.

Die speletjie sal elke Saterdagaand 6 uur (give or take verskyn).  Die speletjie bly oop vir punte tot Sondaemiddae 14h00.  Dit is GMT – 2uur of te wel Suid-Afrikaanse tyd.  Tot daardie tyd is almal welkom om hulle kanse te waag. 

Punte word net vir die pret toegeken.  Die persoon wat die meeste punte in ‘n maand versamel dra die Liedjie Doring van die Maand titel.  Daar is twee dele tot die speletjie.

  1. Daar is ‘n geskrewe stuk waaraan daar titels van liedjies verskuild is.  Die titels is vertaal van liedjies wat wel op een of ander tyd ‘n treffer was.  As die skrywe dus in Afrikaans is, is daar Engelse liedjies versteek.  As dit in Engels is, is dit daar Afrikaanse liedjies verskuil.  Jy moet die liedjies identifiseer en met die kunstenaars wat dit gesing het.  Bv:  Dans Koningin = Dancing Queen – ABBA
  2. Daar word ‘n foto geplaas en jy moet liedjies aan die foto verbind.  Weereens moet jy die kunstenaars ook gee.  Die liedjies kan in Afrikaans of Engels wees. 

Daar is drie maniere om punte  te kry.  Ongelukkig kry net die eerste persoon wat die liedjie identifiseer punte.  Die helfte van die punte word gegee as net die liedjie gegee word of as die kunstenaar verkeerd is.  ‘n Ander persoon kan dan die kunstenaar gee vir die res van die punte.  Geen punte word egter toegeken vir ‘n kunstenaar sonder ‘n liedjie nie.  Geen punte word gegee vir ‘n kunstenaar wat ‘n ABBA liedjie cover nie. 

  1. Daar word 3 liedjies in die skrywe weggesteek.  Hulle is 2 punte werd, want ek moes moeite doen om dit te probeer wegsteek.  Een punt vir die liedjie en een punt vir die kunstenaar.
  2. Bonuspunte kan verdien word as jy ‘n toevallige liedjie in die skrywe raaksien, dus een wat ek nie versteek het nie.  Dit en die foto liedjies is 1 punt werd.  Let wel, ek gaan nie week na week vir dieselfde bonuspunte vir dieselfde liedjies gee nie.  Uitsondering kan van toepassing wees.
  3. As jy my met ‘n stukkie skerp denke kan beindruk.  ‘n Halwe antwoord is nie skerp denke nie, dit is kanse vat.  Wat natuurlik baie oulik is, maar nie juis punte verdien nie.  As jy ‘n ietsie meer kripties kan eien, gooi dit.  Met ‘n verduideliking asseblief anders weet ek dalk nie waarvan jy praat nie.  As ek saamstem, kan jy jou punte kry.

Ek dink net ek is perfek, maar ek maak ook foute.  As jy dink ek het een begaan, wys dit uit en ek sal dit in heroorweging neem.  Dit beteken egter nie dat ek gaan saamstem nie.  Net die persoon wat die antwoord gegee het, mag dit bevraagteken.

Dit is my reëls, wat ek kan aanpas soos ek lekker kry.

1 Kommentaar Add your own

Lewer kommentaar

Trackback this post  |  Subscribe to the comments via RSS Feed