Kopers spyt

Internet inkopies is ‘n euwel.  So verstaan ek maar, ek het geen persoonlike ondervinding daarmee nie.  Dit is laat aand en jy mors tyd om op die internet rond te krap.  Daar is dit:  Middernag afslag.  ‘n Kopie wat net onweerstaanbaar is.  Die krediet kaart is naby en niks keer jou nie. So word jy die trotse eienaar, trots genoeg dat klaasvakie sy werk kan doen.

6 weke later land dit op jou drempel.  Skielik besef jy dat jy sopas ‘n wit olifant ryker geword het.  Iets wat jy eintlik nie wil hê nie en glad nie kan gebruik nie.  Dit is nie eers besonders mooi nie.  Verf dit swart klink na ‘n blink plan, maar dan het nog steeds nie plek nie.  Ongelukkig is daar in Suid-Afrika ‘n krakerwa nie.  Jy moet die olifant in ‘n stal druk en voer tot ‘n tambola in die toekoms.

Blogvraag:  Identifiseer die liedjies.

Blogantwoord:  Dit verwys na al die “cons” wat Danny Ocean se span moes doen om die Casino te roof. 

P1000924

September 19, 2009 at 6 : 00 51 Kommentaar

Nuwe loopbaan

Die Engelse sê:  If you can’t beat them, join them. 

Die algemene publiek het al aanvaar dat misdaad ‘n algemene gebeurtenis gaan bly.  Die nuus van ‘n moord of verkragting is al soos nuus van die weer.  Tensy jy (of ‘n geliefde) die slagoffer was, traak dit jou nie juis nie.  Cele het belowe om die misdadigers vas te vat.  Wat is die lesser evil, om aan misdadigers uitgelewer te wees of om aan ‘n Polisie mag uitgelewer te wees wat eers skiet en dan vra.

Almal weet hoe voel ek oor Polisie Brutaliteit.  Buitendien betaal hulle heeltemaal te min.  As ek moet join, join ek die misdadigers.  Hulle is juis op die oomblik die wenspan.  Wie het al van ‘n misdadiger gehoor wat papierwerk moet afhandel?  Hulle kry ook nie ontydige opleiding nie en hulle woon nooit vergaderings by nie.  Wat jy in die loopbaan insit, is wat jy uitkry.  Jy is ook gewaarborg om ‘n kick uit jou loopbaan te kry.  Die enigste probleem is waarin spesialiseer ‘n mens?

Kapery is blykbaar baie lonend.  Ek het persoonlike ondervinding van hoe lekker ‘n straat resies kan wees.  Al wat jy hoef te doen is om iemand uit hulle kar te boender en dan weg te ry.  Maklik.  Die probleem is hoe om ‘n betroubare afsetgebied te kry vir jou buit.  Ek wil mos nie karre versamel nie.  Verkope klink na werk.  Dus word die idee geskrap.  Dieselfde probleme met dwelmhandel. 

Ek was nog altyd ‘n groot bewonderaar van klouterdiewe.  Soos ek die storie verstaan moet jy net ‘n agent hê om as ‘n bemiddelaar te wees.  Ongelukkig is ek nie soepel nie en ook nie baie lief vir hoogtes nie.  Ek het nie die grasie van ‘n kat nie en ek is nogal lomp.

Doodgewone bedrog is nie net vervelig nie, maar ek voel nie gemaklik daarmee om geld te steel nie.  Die meeste witboordjie misdadigers steel van die mense wat dit juis nie kan bekostig nie.  Daarmee sal ek nie kan saamlewe nie.  Ek hou nie daarvan om met syfers te karring nie.  Dit klink na ekstra werk.  Daar is seker die moontlikheid om van die staat, banke, selfoonmaatskappye of versekering te steel.  Ongelukkig steel jy dan van jouself en jy sal vir die verlies moet vergoed. 

Sluipmoordenaar is nog iets wat goeie vrugte kan lewer.  Jy moet net die eerste keer raak skiet en vinnig met jou wapen en al kan verdwyn.  My gewete is glad nie te sprake nie, ek gaan mos net slegte mense skiet.  Ek weet nie hoe volhoubaar dit is nie?  Ek steek gewoonlik soos ‘n seer duim uit, dus sal my loopbaan maar kort wees.

‘n Verneukkunstenaar is ook ‘n moontlikheid.  Dit verg fyn beplanning, maar die beloning is so die moeite werd.  Jy moet net nie gevang word nie.  Jy kan elke dag iemand anders wees.  Was dit nou nie vir my afpissende persoonlikheid nie, het ek dit sterk oorweeg.

Daar bly dus net ontvoering oor.  Ek sal nou nie juis die kinders seer maak nie, maar wat doen ek as hulle ouers nie wil betaal nie.  EUREKA!!!  Ek het dit!!!  Ek gaan vir Julius Malema ontvoer.  En ek gaan hom nie loslaat tot sy ondersteuners my genoeg betaal nie.  Let op die woord – genoeg.  In die tussentyd gaan ek hom loslaat as sy vyande my nie genoeg betaal nie.  Ek dink ek sal in weelde kan lewe met die plan.

Is jy ‘n joiner?  Wat is jou plan van aksie?

Blogvraag:  

In Ocean’s Eleven, sê Rusty:  

Off the top of my head, I’d say you’re looking at a Boesky, a Jim Brown, a Miss Daisy, two Jethros and a Leon Spinks, not to mention the biggest Ella Fitzgerald…ever.

Waarna verwys hy hiermee?

Blogantwoord:  Kirschwasser

September 18, 2009 at 5 : 31 113 Kommentaar

Have your cake . . .

Vir die doel van vandag se skrywe, is ‘n koek sommer ook ‘n tert.  En ek praat van regte koeke.  Soos in eiers, suiker, meel en melk.  ‘n Soete verleiding wat ‘n mens moeilik kan bedank, maar wat pylreguit om die heupe gaan sit. 

Vra enige lukrate persoon wat sy / haar gunsteling koek is, is die kanse goed dat dit sjokolade koek gaan wees.  As die persoon wel nie van koek hou nie, gaan hy/sy wel hulle voortande opoffer vir ‘n stuk melktert.  Daar is bittermin mense wat ‘n stukkie gebak nie gaan waardeer nie.  Dit hang natuurlik ook af van wie die bakker is.  ‘n Mens bak goed of sleg.  Daar is niks tussenbeide nie. 

Tog is daar soveel meer as net sjokolade koeke.  Buitendien kom ‘n sjokolade koek in soveel verskillende vorms, dat dit nie so eenvoudig is nie.  Toegegee, die basis bly ‘n sjokolade sponskoek, maar die versiering maak al die verskil in die wêreld.  Ek meen, ‘n Kalua Cappuchino Koek is nie ‘n sjokolade koek nie.  As jy so dink, het jy dit nog nie geproe nie.  Dan praat ek nie eers van Death by Chocolate, Chocolate Mouse of Caramel Chocolate nie.

Juis omdat mens sjokoladekoek onder elke bossie kan uitskop, verkies baie mense vanilla koeke.  Dit is ook moontlik om die beste van twee wêrelde te geniet, dus ‘n koek wat deels sjokolade en deels vanilla is.  Die naam het my nou ontgaan.  Wanneer mens besef dat die kleur van die koek afhanklik is van die geur middels, is die moontlikhede legio.  Koffiekoeke, pienk, blou, geel of groenkoeke is alles moontlik.

Swartwoud koeke is ook ‘n baie gewilde keuse.  Om wortelkoeke – my persoonlike gunsteling – nie te vergeet nie.  Mense sal ook hulle siele verkoop vir ‘n Pepperment Crisp, appel, pekaneut of Suurlemoenskuimtert.  Wag, laat ek eerder nie op terte begin nie, julle hoor dalk nooit die einde nie. 

Die interessantste koek wat ek al geëet het was ‘n papawersaad koek.  Soos van die naam afgelei kan word, bevat die koek papawer saad.  Dit is dus ‘n wit koek vol blou spikkels en ja, dit was ‘n baie lekker koek.

Soveel plesier as wat ‘n koek kan verskaf, is daar niks ergers as om ‘n slegte koek af te wurg nie.  Die gasvrou roem op haar meesterkoeke waaroor almal glo vuisslaan.  Jy kan dit goed glo, hulle baklei sodat daar nie ‘n krummel oorbly wat geëet moet word nie. 

Wat is jou gunsteling koek?  Kan jy self bak en wat is jou spesialiteit?  Wat was die slegste koek wat jy al moes afwurg?

Blogvraag:  Watter alkoholiese drank word tradisioneel by ‘n Swartwoudkoek gevoeg?  (Ek soek die naam, nie die tipe alkohol nie.)

Blogantwoord:  Maxie was reg met Cosatu.

September 17, 2009 at 5 : 31 28 Kommentaar

Resessie ‘n verskoning vir Slawerny

Deesdae moet ‘n mens dankbaar wees as jy ‘n werk het.  Deesdae moet jy dankbaar wees dat jy juis op ‘n Vrydag of ‘n Maandag moet werk.  Die versugting is lekker, behalwe as jy daaraan dink dat dit met ‘n 20 % salaris verlaging gepaard gaan.  Jy moet ook jou werk ten alle koste behou.  Werk was nog altyd so skaars soos hoendertande en nou is dit nog skaarser.  Dit raak moeiliker om jou verpligting na te kom, maar dit is eers moeilik as jy geen inkomste het nie.

Ons besef dit almal en bedank God elke aand daarvoor.  Tog is daar ‘n spul gewetenlose werkgewers wat dit ook besef en uitbuit.  As jy nie ‘n sent op jou naam het nie, raak jy desperaat.  Jy sal bykans enige iets doen om te verseker dat jou kinders met vol magies bed toe gaan.  Al moet jy jou eie veiligheid daarvoor inboet of teen ‘n slaweloon werk.  ‘n Halwe eier is nog steeds beter as ‘n halwe dop.

Dit is skrikwekkend as ‘n mens besef dat firmas dikwels geld besnoei op veiligheid.  As iemand seerkry, moet Mannekrag help.  As hulle nie kan / wil nie, dan is dit daarnatoe.  As ‘n werker sy ledemaat of selfs sy lewe verloor, is daar nog steeds geen rede vir kommer nie.  Daar is nog vele waar daardie een vandaan gekom het. 

Wins is ‘n baie eenvoudige vergelyking.  Wins = Inkomste – Uitgawes.  Die resessie het niemand gedwing om hulle pryse vir dienste of produkte te verlaag nie.  Dikwels styg dit juis as gevolg van skommelinge in die geldmarke of stygings in vervoer.  Ja, die uitgawes kan seker meer woord.  Tog word die inkomste ook dienooreenkomstig meer.  Een van die grootste uitgawes is dikwels salarisse.

Pakkette is niks vreemd in moeilike tye nie.  Dit is een manier om die salarisse te sny.  Tog word mense ook dikwels teen ‘n aansienlike laer salaris aangestel.  Met die verskoning van die resessie.  Ek het nog nooit gehoor dat iemand se salaris spring wanneer die moeilike tye verby is nie.  Hoe minder die uitgawes, hoe meer is die wins.  En winste gaan gewoonlik in bestuurders se sakke. 

Hoekom iemand betaal wat hy / sy werd is, as jy hom /haar net ‘n gedeelte daarvan kan gee.  As hy nie gelukkig is met wat hy kry nie, kan hy sy goed vat en loop.  Daar is nog baie ander waar hy vandaan kom.  Boonop moet hy die werk van verskeie mense doen, sonder die vergoeding.  Juis omdat dit die maatskappy behaag.  Dit vat meer tyd, energie en breinkrag.

Vat dit of los dit het nog altyd op slawerny neergekom.  Die werk neem mense lewe oor en gee hulle net genoeg om te kan oorleef.  Minder indien moontlik.

Is die resessie ‘n aanvaarbare verskoning vir uitbuiting?  Is dit in moeilike tye aanvaarbaar om met mense se lewens te speel?

Blogvraag:  Watter organisasie se eerste voorsitter (1985 – 1991) was Elijah Barayi?

Blogantwoord:  Olga was reg met die lagmasjien oftewel die laff box wat die lag opnames bevat wat in Sitcoms gebruik word.

September 16, 2009 at 4 : 52 64 Kommentaar

Vereniging deur die eenoogmonster

Daar kan boekdele geskryf word oor die nadele van televisie.  Meer nog kan gesê word van die irritasie wat dit soms is en die snert wat uitgesaai word.   Tog kan niemand betwis dat televisie ook voordele het.  Die grootste voordeel van televisie is dat dit ons dikwels toeskouers van geskiedenis maak.

Daar is seker nie ‘n beter voorbeeld as 11 September 2001.  Ek was vroeg van my prakties af en wou eintlik net sien wat is op TV.  Op die presiese oomblik wat die tweede vliegtuig in die Twin Towers vasgevlieg het.  Natuurlik het daar toe dadels van my middagslapie gekom.  Ek het my vriendin uit haar kamer (en middagslapie) gaan pluk en ons het TV gekyk asof ons lewe daarvan afhang.  Ons was nie alleen nie.   Daardie aand het almal net gaan kos haal, almal bang dat hulle moontlik iets gaan mis.

Werklikheids televisie sonder enige draaiboek of konsep.  Mense wat uit geboue uitspring om nie dood gebrand te word nie.  En dit is nie ‘n akteur wat miljoene betaal word nie, dit is nie eers ‘n waaghals nie en daar is niks om sy val te breek nie.  Dit is ‘n gewone mens wat ‘n keuse tussen twee maniere om te sterf gemaak het.

Ek dink byvoorbeeld ook aan 11 Februarie 1990 waar mense vasgenael gesit het om te sien hoe lyk Nelson Mandela nou eintlik.  Die eerste stap na ‘n nuwe Suid-Afrika.  Daar was in miljoene gerou by die begrafnis van Diana, Moeder Theresa en Pous Johannes Paulus II.  Bietjie voor my tyd, maar deur die kassie was miljoene mense ook gaste aan Diana en Charles se troue gewees.   Hoeveel mense was in die jurie van OJ Simpson gewees danksy Televisie? 

Radio kan die gehoor selfs nog meer maak, maar dit bly anders om iets te sien as om dit te hoor.  Hoorsê sal nooit met my eie oë sien wat gebeur vervang nie.  Televisie kan gemanipuleer word, ja, maar nie in lewendige uitsendings nie.

Televisie bring die uithoek van die aarde huis toe.  Televisie is dalk die instrument wat dit wel sal regkry om die wêreld te verenig.  Dat daar vir ‘n paar minute / ure iets gaan wees wat alle skeidings gaan verwyder.  Mens kan maar hoop dat dit nie met ‘n tragedie gaan wees nie. 

Watter televisie “as-it-happened” uitsending val jou by?  Het jy die groot gebeure op tv gekyk?

Blogvraag:  Wat het CBS klank ingineur, Charley Douglass, ontwikkel?

Blogantwoord: Die VN het 193 lidlande.

BAIE geluk aan Poplap wat vandag, 16 September, verjaar.  Ons hoop dat ‘n baie mooi jaar vir haar wag.

September 15, 2009 at 5 : 49 23 Kommentaar

Patrick Swayze

Wat kan ‘n mens sê as ‘n akteur soos Patrick Swayze sterf?  Hy het nooit ‘n Oscar gewen nie en sy Emmy benoemings het net benoemings gebly.  Is die kuns van toneelspeel regtig vasgevang in toekennings?  Of is ‘n geliefde akteur vasgevang in die harte van mense?

Gaan vra enige vrou wat is haar top 10 flieks van alle tye.  Ek gee jou ‘n brief dat Dirty Dancing en / of Ghost in daardie lys gaan wees.  Altwee die flieks sou nêrens gewees het sonder Patrick Swayze nie.

Ek lees Dirty Dancing word as ‘n Cult Classic gesien.  Patrick Swayze sal dus verewig lewe.

September 15, 2009 at 8 : 57 8 Kommentaar

Berg van ‘n molshoop

Ek wil nou nie lelik wees nie, maar hierdie Caster Semenya storie raak nou net een te veel.  Regtig, ek voel baie jammer vir haar.  Dit kan nie maklik wees as jou drome en ideale dreig om voor jou voete verpletter te word nie.  18 jaar is eintlik nog bitter jonk.  ‘n Wrede ontnugtering, maar eintlik ook ‘n genade.  Dit is nie te laat om ‘n skuif te maak nie, sy kon in elk geval nie vir die res van haar lewe atletiek gedoen het nie. 

Tog met die nuwe ontwikkeling wil ek vir ‘n paar mense vra om by te pik.  Dit sou die beste gewees het as die hele aangeleentheid in vertroulikheid afgehandel kon word, dus as dit nooit aan die media gelek was nie.  Dit is egter diegene wat haar moes beskerm wat die hele storie in ‘n sirkus laar ontaard het.  Semenya is nie die eerste of laaste vrou wat aan geslagstoetse geonderwerp is nie.  Daar was verlede jaar 8 vroue getoets, waarvan 4 se sportloopbane tot ‘n einde gekom het.  Niemand het dit ‘n Ripley’s storie gemaak nie.

As ek ou koeie uit die sloot uit kan gaan grawe.  Malema se sogenaamde beskerming is ‘n klap in haar gesig.  “Daar is baie wit vroue wat lelik is, hoekom doen niemand geslagstoetse op hulle nie?”  Dit impliseer dat Semenya lelik is.  Wat het wit en swart in elk geval met die saak te doen?  Dit gaan oor die hoeveelheid testosteroon wat sy het, wat net mooi niks met kleur te doen het nie.  Winnie Mandela se “Our little girl . . .” is verkleinerend.  In Semenya se skoene sou ek net daar ‘n baba gekry het – en sommer terselfde tyd die IAAF ‘n ding gewys het.

Dit blyk alhoemeer dat Leonard Chuene vir Semenya vir die aasvoëls gewerp.  Hy het vermoedelik geweet wat op haar wag.  In plaas om haar die vernedering te spaar of om vroegtydig op te tree het hy sy kop in ‘n gat gedruk.  Boonop word hy op die skouer geklop oor sy hantering oor die saak?  Hy het niks hanteer nie!  Hy het nie rassisme gegil.

Ek verstaan Semenya self kry op die oomblik berading oor die artikels in Australië.  Terloops, wat het geword van gaan haal die storie uit die perd se mond uit?  Deesdae berig koerante en radio’s net oor wat hulle in ander koerante gelees het.  Praat van ploeg met ‘n ander se kallers.  Terug na Semenya, ek verstaan sy swot sportwetenskap.  Nie die maklikste kursus nie, ek dink amper biologie en / of natuurwetenskap is ‘n vereiste.  Iewers moes sy al gehoor het van vroulike en manlike geslagsdele.  Iewers moes sy al gehoor het dat meisies menustrueer en hoekom hulle menustrueer?  Het niemand dit vreemd gevind omdat sy nog nie gemenustrueer nie? Of verskil dit met die agtergeblewendes?

Die een wat nou heeltemaak die dam onder die eend uitruk, is Makhenkesi Stofile.  Die man dreig sommer die met die Derde Wêreld oorlog as Semenya gediskwalifiseer word.  Na dese is ek nie eers heeltemaal seker dat hy dit figuurlik bedoel nie.  Intussen is daar al ook by die VN se afdeling van vrouebemagtiging gestuur.  Ek meen, goeie ouers.  Die VN het seker beter dinge om te doen.

Die politici in die land het Semenya van haar menswaardigheid beroof om van haar ‘n speelbal te maak.

Hoe voel julle?

Blogvraag:  Hoeveel lande is lede van die Verenigde Nasies?

Blogantwoord:  Maxie was amper reg met Musiri, Tamil Nadu, Indië.

September 14, 2009 at 5 : 39 22 Kommentaar

Older Posts Newer Posts


Rosies vir Little Angels

Photobucket
The ARK; Standard bank; Hermanus ReK no: 085133698; Takkode: 050312

Rooflesers

website counter

Liedjie Doring Augustus – Max

Liedjiedorings September

Willes: 100

Olga: 13

Max: 37.5

Wip: 8

Kaneels: 2

Spesies

Potpourri

Posduifhok

amaal3@gmail.com

Gevreetjie Fabriek

http://en.gravatar.com/

Facebook

Dorings en Soms Rose het 'n groep op Facebook gestig. Soek ons gerus op.

Hoe vaar ons?

ZA TOP Sites
saTopBlogs.co.za