Skaap in wolfklere

September 8, 2009 at 6 : 15 49 Kommentaar

Ons weet almal teen die tyd dat baie wolwe skaapklere dra.  Mense wat ordentlik (gelowig / liefdevol / gerespekteerd) voorkom, kan die grootste varke op twee voete wees.  ‘n Mens moet dus nie iemand op gesigwaarde oordeel nie, maar dieper as die oppervlak kyk.  In die belang van selfbeskerming sorg ons dat ons dit nie vergeet nie.  Tog moet ‘n mens in agneem dat die teenoorgestelde ook waar kan wees.

So ‘n ruk terug het ek met iemand kontak gehad wat my ‘n fliek laat onthou het wat ek as kind gesien het.  In die fliek het ‘n tienerseun (as ek reg onthou) ver van die die huis by ‘n kleuterskool gaan werk.  In die trek proses het hy sy engelgesig verloor.  Op sy eerste dag by die werk, was hy uitgerus in stywe swart leer, hare swart gekleur en in ‘n punk styl gestyleer en swart grimering.  Nie iemand wat jy naby jou kleuters wil hê nie.  Die skool het geen ander keuse gehad as om hom ‘n kans te gee nie.  Hy was ‘n aanwins tot die skool, ten spyte van sy rowwe voorkoms.  Teen die einde was almal spyt omdat hy moes terug keer huis toe. 

Hoe dikwels word mense nie ten opsigte van hulle voorkoms ‘n etiket toegeken nie.  Dit is seker waar dat jou voorkoms ‘n uitvloeisel van jou persoonlikheid is, maar dit is dikwels misleidend.   Kyk byvoorbeeld in ‘n raadsaal waar ‘n hoë vlak vergadering gehou word.  Die meerderheid van die vrouens gaan in ‘n baadjie pak geklee wees.  Hulle gaan almal koel, kalm en berekenend voorkom.  Juis omdat hulle vrouens is, sal hulle waarskynlik met daardie gedagte so aangetrek het.  Tog gaan almal nie harde, feitlike wesens wees nie.  Die vere maak nie altyd die voël nie. 

Terug na die eintlike bespreking.  Hoe dikwels hoor ‘n mens nie dat ‘n seun wie se broek om sy bobene hang ‘n slapgat is nie.  Dit mag dalk vir die meerderheid waar wees, maar ‘n mens kan die enkelinge kry wat karaktervas en dapperder is as die wat voortrekker uniform dra.  ‘n Vrou wat haar bates ten toon stel is ‘n slet.  Dit kan egter ook wees dat sy die selfvertroue het vir die voorkoms, gemaklik met haarself is en kuiser is as die meisie wat soos ‘n non aantrek.  Mans wat ‘n vuil werk doen is voor die voet rof en onbeskof.  Tog is dit moontlik dat daar ‘n fyn sensitiewe siel onder die oorpak skuil.

Dit is goed en wel om die wolf in skaapklere te vermy.  Tog wil ‘n mens eintlik bevriend word met die skaap en wolfklere.  Dit is amper soos ‘n verrassingspakkie, jy weet nooit wat jy gaan ontdek nie.

Blogvraag:   Voor die 18de eeu, die uitvoer van watter tipe skaap van Spanje was met die dood strafbaar?

Blogantwoord:  Nell was reg met Oliver Twist.

Entry filed under: Filosofie. Tags: .

Een woord Wie dra die broek?

49 Kommentaar Add your own

  • 1. Olga  |  September 8, 2009 om 6 : 43

    eerste

  • 2. Olga  |  September 8, 2009 om 6 : 48

    merino?

  • 3. Adrie  |  September 8, 2009 om 6 : 51

    Hallo . . . Hallo . . . Hallo

    Whahahahahaha!

  • 4. Wille Kjind Q  |  September 8, 2009 om 7 : 17

    Yis yis!!!!

  • 5. Wille Kjind Q  |  September 8, 2009 om 7 : 17

    Het nou net byri huis gestop

  • 6. Adrie  |  September 8, 2009 om 7 : 24

    So vroeg?😯

  • 7. kaneelsuiker  |  September 8, 2009 om 7 : 56

    As iemand vir my daai seun kan vind wat sy broek op sy stêrre laat hang en fluks is, stuur asseblief ‘n foto van hom, dan stuur ek ‘n foto van my wat ‘n hoed eet.

  • 8. Adrie  |  September 8, 2009 om 8 : 01

    Kaneel

    Is dit ‘n uitdaging? 😉 Ek kan mos nie ‘n uitdaging weerstaan nie.

    Baie welkom hier tussen die dorings. Ek hoop ons gaan jou meermale hier sien.

  • 9. kaneelsuiker  |  September 8, 2009 om 8 : 07

    Dankie, Adrie.
    Jy kan daai uitdaging maar aanvaar, ek ken nie so ou nie.

    Julle sal beslis meer van my hier sien (hopelik sonder stukke hoed in my mond)😛

  • 10. Adrie  |  September 8, 2009 om 8 : 11

    Skielik is ek spyt dat ek nie onderwys geswot het nie.

    Ek ken nie so baie jong mans nie. Ek sal ver moet gaan soek.

  • 11. kaneelsuiker  |  September 8, 2009 om 8 : 23

    Hahaha, moenie jou ooreis nie, asseblief.
    Ek ken daai kultuur en ek weet hoe uiters seldsaam só ‘n vonds sal wees.

  • 12. Adrie  |  September 8, 2009 om 8 : 24

    Kaneel

    Waar is jou pannekoek?

  • 13. kaneelsuiker  |  September 8, 2009 om 8 : 43

    Gits, oppelalla!

  • 14. Adrie  |  September 8, 2009 om 8 : 45

    Vraat. 😆

    Lyk my jy is ook ‘n jong lat. Ek neem aan jou broek is nie om jou bene nie. Wil jy nie asseblief vir ons die vrae in Bly te kenne (bo die bladsy) invul nie? Dit help ons net om mense beter te leer ken.

  • 15. kaneelsuiker  |  September 8, 2009 om 8 : 53

    :mrgreen: Ek sal die resep op my blog post, net vir die snaaksigheid.

    Ek sukkel om my broek so te laat hang, sien. Dis of bo die boude of om die enkels. Ek sal die vrae nou invul.

  • 16. Adrie  |  September 8, 2009 om 9 : 03

    Ek wonder nou.

    Dink julle daar is velcro aan die outjies se boksers om seker te maak die broek land nie rondom hulle kniee op nie?

  • 17. Adrie  |  September 9, 2009 om 7 : 07

    More almal

  • 18. wipneus  |  September 9, 2009 om 7 : 24

    Ek is nogal skuldig aan die een. Ek oordeel ‘n mens op eerste indrukke. Die jammerte is, dat ek ook nie wag dat die persoon my dalk anders bewys nie.

    Ek moet sê ek ken ‘n seun wie se broek op sy sterre hang wat baie fluks is. Hy het al ongelooflik vêr in die lewe gekom. Maar die mannetjie kan ook beskryf word as ‘n “nerd” “eksentriek” en ongelooflik slim! 😛

  • 19. *Mathilda*  |  September 9, 2009 om 8 : 05

    More maats

  • 20. Adrie  |  September 9, 2009 om 8 : 05

    Wip

    Stuur my asb ‘n foto van die ou. Kaneel is honger vir ‘n hoed.

  • 21. Beeld  |  September 9, 2009 om 8 : 20

    Daniëlla du Plooy

    Die ekonomiese pyne dryf talle desperate mense tot veral kosdiefstal, terwyl diegene wat gewoond geraak het aan klein luukshede óók begin steel.

    Volgens mnr. Michael Brough-ton, direkteur van die verbruikersgoedereraad van Suid-Afrika, het veral diefstal van basiese kosgoedere vanjaar toegeneem vergeleke met dieselfde tyd in 2008.

    In 2008 is sowat R4,2 miljoen se verbruikersgoedere gesteel en in Junie vanjaar was dié bedrag reeds verby R3 miljoen – met die Kerstyd wat nog voorlê.

    “Mense steel items soos rys, suiker, mieliepap en klein stukkies hoender.”

    Volgens hom koop mense meestal by ’n winkel en steel dan bykomende items om hul kosmandjie aan te vul. “Dit is gewoonlik dié soort items wat hulle altyd gekoop het, maar nie meer kan bekostig nie.”

    Dit is nie net dié wat onder die broodlyn leef wat nou steel nie.

    “Mense uit hoër inkomstegroepe wat gewoond geraak het aan ’n sekere leefstyl tel óók onder dié ‘nuwe diewe’.

    “ ’n Vrou sal byvoorbeeld ’n enkele pakkie versoeter steel, want haar man het sy werk verloor en hulle kan dit nie meer bekostig nie. Mense wil nie dié dinge prysgee nie.”

    Hy het gesê enigiemand wat items in die winkel versteek deur dit byvoorbeeld in ’n broek- of baadjiesak of onder goedere te plaas, kan daar en dan voorgekeer en selfs in hegtenis geneem word.

    “In die verlede moes winkel­beamptes wag tot die persoon met dié item uitgeloop het, maar nou word aanvaar jy versteek nie sommer iets sonder dat jy dit wil steel nie.”

    Hy meen dis “tragies” dat die resessie mense tot diefstal dryf.

    – Beeld

  • 22. Beeld  |  September 9, 2009 om 8 : 21

    Wolfram Zwecker

    Die Ekurhuleni-metropolisie het glo Sondagaand ’n kind van Delmore Park by Germiston doodgeskiet.

    Inwoners van dié woonbuurt is woedend oor die beweerde voorval wat glo plaasgevind het tydens ’n partytjie om die lente te vier.

    Die polisie het na bewering omstreeks 20:00 opgedaag om die partytjie stop te sit, vermoedelik omdat dit te raserig was.

    Volgens hoofsupt. Wilfred Kgasa-go, woordvoerder van die Ekurhuleni-metropolisie, is metropolisielede Sondagaand na Delmore Park. Daar was ’n skietery en die metropolisie en die SAPD ondersoek die saak.

    Donshael het Alexander Thys (15) in die maag getref. Hy het ná die noodlottige skoot nog ’n entjie gehardloop voordat hy in mekaargesak en gesterf het. Ethan Erasmus (16) wou nog help, maar was self gewond.

    Christopher Bosch (16) en Shan Sebatie (16) is ook deur die donshael getref. Dié drie is na die Natalspruit-hospitaal geneem.

    Die inwoners van Delmore Park beweer die kuiery was vreedsaam. Mnr. Wayne van Zyl, ’n gemeenskapsleier wat glo ook hardhandig deur die metrolede rondgepluk is en wie se kamera na bewering gebreek is toe hy foto’s wou neem, sê die partytjiegangers het reeds begin huis toe gaan toe die skietery gebeur het.

    “Dit was ’n lentefees en die mense het gekuier. Daar was geen probleme nie. Teen 20:00 het die metropolisie opgedaag en my gevra om die mense te vra om huis toe te gaan omdat hulle raas. Hulle was besig om uitmekaar te gaan, maar kon nie ry nie omdat die metropolisie die strate afgesper het. Daar was egter geen probleme nie. Ek weet nie hoekom hulle moes skiet nie,” het Van Zyl gister gesê.

    Volgens mev. Inez Strauss, een van die ma’s van die jongmense wat in die parkie was, het tussen agt en tien metropolisievoertuie Sondagaand verby haar huis na die parkie gery.

    “Hulle het al die paaie toegemaak en afgesper; die mense in die parkie kon nie uitkom nie. Die seuns was besig om, soos hulle aangesê is om te doen, uit die parkie te loop toe een van die metropolisielede blykbaar geskree het: ‘Boesmans, ons gaan julle vrekmaak.’ Hulle het daarna geskiet,” het sy gister gesê.

    Alexander se ma, Claudia, was gister nog te geskok om oor die voorval te praat. Sy pa, Willem, was gister besig met begrafnisreëlings. Die begrafnis sal na verwagting die naweek plaasvind.

    ’n Roudiens word Donderdagaand in die parkie gehou waar die skietery plaasgevind het. .

    – Beeld

  • 23. Beeld  |  September 9, 2009 om 8 : 24

    Virginia Keppler
    Die ma van die sewejarige seun wat glo sy boude en bobeen met ’n paplepel pimpel en pers geslaan het, is gisteroggend deur die Akasia-polisie gearresteer.

    Kapt. Solly Marindi, polisiewoordvoerder, het gesê die 43-jarige vrou van Karenpark, noord van Pretoria, sal môre in die landdroshof in Pretoria-Noord verskyn op ’n aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

    Die ma het blykbaar die seun, ’n gr.?1-leerling aan ’n laerskool in Pretoria, verlede Dinsdag aangerand omdat hy gesukkel het om sekere klanke te maak.

    Volgens die seun het sy ma hom ook rondgepluk en deur die gesig geklap.

    Sy klasonderwyser het die volgende dag opgemerk hy kan nie op sy boude sit nie en ná nadere ondersoek het sy die polisie
    en die seun se pa ontbied.

    Die seun is sedert verlede Woensdag in die sorg van sy pa en stiefma geplaas.

    Die seun se pa het verlede week aan Beeld gesê dit is nie die eerste keer dat sy voormalige vrou hul kind slaan nie. “Dit is net die ergste,” het hy gesê.

    Volgens hom het hy drie jaar gelede ook ’n klag van aanranding by die Hercules-polisiekantoor aanhangig gemaak, maar daar het niks van gekom nie.

    Hy was gister baie ontevrede omdat al die foto’s wat kort ná die voorval geneem is om as bewyse te dien uit die polisiedossier verdwyn het. “Gelukkig het ons nog afskrifte gehad.”

  • 24. Beeld  |  September 9, 2009 om 8 : 25

    Sonja van Buul

    Vereeniging. – ’n Pa en sy seuntjie het gister tussen Vereeniging en Villiers saam gesterf toe ’n vragmotor teen hul motor gebots het.

    Mnr. Gavin Moore (34) en sy jongste seun, Tyler (4), is vermoedelik op slag dood.

    Moore se vrou, Marsha (30), en hul ander seun, Jayden (6), was ook in die motor.

    Al vier gesinslede is weens die impak van die ongeluk uit hul silwergrys Volkswagen ­Touareg geslinger.

    Mev. Moore het ernstige beserings opgedoen en haar toestand is kritiek, terwyl Jayden se toestand deur paramedici as ernstig beskryf is.

    Hulle is deur die Sedibeng-nooddienste na die Vereeniging Medi-Clinic vervoer.

    Die Moore-gesin, wat in Vaal Marina tussen Vereeniging en Villiers woon, was net ná 13:00 op pad huis toe toe die ongeluk gebeur het.

    Die vragmotor van ’n private maatskappy in Devon het van Villiers in die rigting van Vereeniging gery toe die bestuurder vermoedelik beheer oor die voertuig verloor en voor die aankomende gesinsmotor ingeswaai het.

    Die polisie ondersoek die moontlikheid dat een van die vragmotor se bande gebars het.

    Die Moore-gesin se motor het ongeveer 100?m ver gerol en in ’n stuk veld langs die pad tot stilstand gekom.

    Die vragmotor het sowat 60 m deur ’n draadheining van ’n aangrensende plaas gebars. Die vragmotorbestuurder het van toneel weggehardloop.

    Mnr. Moore, ’n sakeman van Johannesburg, en sy vrou het daagliks tussen die stad en hul woonplek gependel.

    Sy vrou het by Fred’s Auto Body in Germiston gewerk wat aan haar pa, mnr. Fred Strombeck, behoort.

    Strombeck het ure lank geskok en hartseer op die toneel gewag totdat die lyke van sy skoon- en kleinseun verwyder is. Hy is deur ander familielede ondersteun.

    ’n Kunswerkie wat een van die seuns vermoedelik gister by die skool gemaak het, het naby Tyler se lykie liggies in die wind geroer.

    ’n Ben10-animasieboekie het eenkant langs die motorwrak gelê.

    Die Moores het tydelik langs die Vaaldam gewoon terwyl bouwerk aan hul nuwe huis in Johannesburg aan die gang is.

    Jayden is ’n gr. 0-leerling aan die Waterstone College in Kibler Park, Johannesburg, en Tyler was bedags by die Clever Kids-kleuterskool in Mulbarton, Johannesburg.

  • 25. Beeld  |  September 9, 2009 om 8 : 26

    Sonja van Buul
    Vanderbijlpark. – ’n Paramedikus het eergisteraand hier huilend in ’n plas bloed langs sy polisieman-broer gesit en sy hand vasgehou nadat hy geskiet is.

    Konst. Ashok Ramcharan (35) is tydens ’n winkelrooftog in die linker-bobeen getref.
    Sy broer, John, ’n paramedikus van die Sedibeng-nooddienste, het gehoor sy broer is by die Toreno-supermark geskiet en het na die toneel gejaag.

    Die oënskynlik goed beplande rooftog het eergisteraand kort voor sluitingstyd plaasgevind.

    Konst. Ramcharan het by die winkel stilgehou om ’n brood te koop toe hy ’n verdagte voertuig gesien het.

    “Ek het die eienaar van die winkel gaan waarsku, maar naby die uitgang was die vyf gewapende rowers klaar op ons,” het Ramcharan gister in sy hospitaalbed aan Beeld gesê.

    Volgens dié lid van die Vanderbijlparkse opsporingstaakspan het die rowers hom gepak.

    “Hulle het my geskop en geslaan, maar eers later besef ek is ’n polisieman toe ek my vuurwapen uitgehaal het om hulle te skiet.”

    Daar was ’n struweling en Ramcharan is in sy linkerbobeen geskiet.

    Niemand anders is beseer nie.

    Die rowers het Ramcharan se dienswapen en beursie gevat.

    Hulle het ook ’n onbekende bedrag uit die winkel se kasregisters geroof en met ’n lugtydmasjien, kringtelevisiekamera-opnemer, drie selfone en juwele gevlug, het insp. Mzimkhulu Mthimkhulu, polisiewoordvoerder, gesê.

    Hulle het in ’n silwergrys Opel Corsa-bakkie op die vlug geslaan.

    Ramcharan is aanvanklik in die Vereeniging Medi-Clinic opgeneem, maar gistermiddag na die Naledi Nkanyezi-hospitaal in Sebokeng oorgeplaas.

    Sy toestand is stabiel en hy word vanoggend geopereer om die skietwond skoon te maak en die wond te heg.

  • 26. Beeld  |  September 9, 2009 om 8 : 28

    Alet Rademeyer

    Omtrent twee derdes van die sowat 1 500 laerskole in Gauteng presteer nie na wense nie en nie eens 60% van leerlinge in dié skole kan lees en skryf nie.

    Om die situasie te probeer beredder het die provinsiale onderwysdepartement ’n strategie aangekondig wat ’n intensiewe opleidingsprogram vir alle grondslagfase-onderwysers vir tot ses maande lank behels.

    Me. Barbara Creecy, Gautengse LUR vir onderwys, het gister in Atteridgeville buite Pretoria gesê ’n poel van sowat 400 onderwysers is beskikbaar wat in permanente onderwysers se poste sal waarneem terwyl hulle heropgelei word. Hulle sal onder meer by universiteite opleiding kry.

    Die projek sal in 362 skole in Johannesburg, Ekurhuleni-Suid en Tshwane-Noord begin.

    Creecy het die Seaparankwe Primary School in Atteridgeville besoek as deel van internasionale geletterdheidsweek.

    By dié skool word ’n onderrigprogram van die nie-regeringsorganisasie Read met groot sukses gevolg.

    Creecy het gesê deel van die strategie is om voorbeelde te volg van goeie praktyke in skole waar onderrig suksesvol is.

    By Seaparankwe word groot klem op onderrig in Pedi, die meerderheid leerlinge se moedertaal, én Engels geplaas.

    In elke klaskamer is ook verskeie leesboeke wat volgens die onderwysers deurlopend gebruik word.

    Creecy het voorts gesê vir die strategie om te werk moet hoofkantoor en die onderwysdistrikte meer daarop ingestel wees om skole te ondersteun.

    Sy het gesê sy sal graag wil sien dat skole ’n “huisbesoek-benadering” begin volg waar hulle leerlinge se ouerhuise besoek om hulle van die omstandighede daar te vergewis.

    Creecy het gesê ouers se rol in die opvoeding van hul kinders moet meer beklemtoon word. “Ouers kan nie hul kinders net in taxi’s druk en by skole aflaai en verwag alles moet daar gebeur nie.

    “Ouers moet seker maak hul kinders lees by die huis minstens vyf minute op ’n dag. Hulle moet hul kinders vra of hul huiswerk gedoen is.

    “ ’n Etos moet by ’n huis geskep word en ouers moet meer verantwoordelikheid vir hul kinders se gedrag aanvaar.”

    Creecy het gesê in lande waar onderwys reggeruk is in ’n omdraaistrategie was die beginsel dat ouers vir hul kinders se gedrag verantwoordelikheid neem, deurslaggewend.

    Creecy het gesê dit is ook noodsaaklik dat leerprobleme vroegtydig by kinders geïdentifiseer word en dat hulle gehelp word. “Een kind wat probleme het, kan ’n hele klas ontwrig.”

    Sy het gesê hoewel dit onmoontlik is vir elke skool om ’n terapeut of sielkundige te hê, moet gekyk word na modelle om die kundigheid tussen skole te versprei.

    – Beeld

  • 27. Beeld  |  September 9, 2009 om 8 : 32

    Reuters

    Khartoem. – Die Soedanse joernalis wat tronkstraf opgelê is omdat sy ’n langbroek gedra het wat deur die hof as “aanstootlik” beskryf is, is gister vrygelaat.

    Die boete van $200 (sowat R1 500) is deur die unie vir joernaliste in Khar­toem betaal.

    Loebna Ahmed al-Hoesein kon kies tussen ’n boete en ’n maand tronkstraf en het die tronkstraf gekies. Sy het die aanvanklike straf van 40 sweepslae vrygespring wat tien van die vroue wat saam met haar op 12 Julie in hegtenis geneem is, gekry het.

    “Hulle het in die tronk na my gekom en gesê ek kan maar gaan. Ek is glad nie gelukkig daaroor nie. Ek het uitdruklik aan my vriende en familie gesê om nie die boete te betaal nie, maar nou is ek vry.”

    Sy was veral ongelukkig omdat daar volgens haar nog 700 vroue in die tronk is wat niemand het om hul boetes te betaal nie.

    Volgens Mohieddin Titawi, voorsitter van die unie vir joernaliste, moes sy groep die boete betaal, want dit is “sy plig om joernaliste te beskerm wanneer hulle in die tronk is”.

    Die menseregtekantoor van die Verenigde Nasies sê Al-Hoesein se inhegtenisneming en tronkstraf was teen internasionale wette en is ’n aanduiding van die diskriminasie teen vroue in Islamitiese lande.

    – Beeld

  • 28. Beeld  |  September 9, 2009 om 8 : 33

    Meer as 160 mense het reeds gesterf en ’n verdere 520?000 is dakloos in die ergste vloede in dekades in vier Wes-Afrika-state.

    Die Verenigde Nasies (VN) se Wêreldvoedselorganisasie (WVO) sê groot ontwrigting is in Senegal, Mauritanië, Burkina Faso en Niger veroorsaak deur hewige en standhoudende reën sedert verlede week. Brûe, paaie en ander infrastruktuur is op baie plekke eenvoudig weggespoel. Senegal, waar 264?000 mense sonder huise is, is die hardste getref. “Dis altyd die arm en kwesbare mense wat die hardste getref word. Hul karige besittings is weggespoel en hulle is nou geheel en al hulpbehoewend,” het me. Josette Sheeran van die WVO gister gesê.

    Noodvoedsel, wat volwassenes 15 dae lank aan die lewe behoort te hou, word reeds in die betrokke state versprei. Meer as 50 000 mense in Burkino Faso het reeds koshulp ontvang en noodvoorraad word na ’n verdere 75 000 gehaas. In Niger moes 41 000 mense vlug toe ’n damwal meegegee het en in Rosso, Mauritanië, is feitlik die hele gemeenskap van 11 500 dakloos nadat ’n rivier sy oewers oorspoel het.

    – Beeld

  • 29. Nats  |  September 9, 2009 om 8 : 35

    Goeie more julle!!!

  • 30. Adrie  |  September 9, 2009 om 8 : 38

    More Tweeling

    Hoe gaan dit vanoggend?

  • 31. *Mathilda*  |  September 9, 2009 om 8 : 48

    Hallo Nats

    Adrie – jou kind is veilig tuis !

  • 32. Adrie  |  September 9, 2009 om 8 : 51

    Het sy van vlieg gehou?

  • 33. Nats  |  September 9, 2009 om 8 : 54

    Lo Tweeling!
    Ek het vanoggend 6uur wakker gelê… na so 5min besef ek het nie my wekker gestel nie!😯 Dankie tog ek het nie weer aan die slaap geraak nie!

    Lo *M*
    Bly om te hoor TL is veilig!🙂

  • 34. *Mathilda*  |  September 9, 2009 om 9 : 10

    Ja, my ma sê sy was stroopsoet, het met die opstyg en land op haar skoot gesit en die res van die tyd op haar eie sitplek – hulle het tot vir haar so lucky packet gegee met ‘n inkleurboekie en kryte, ‘n puzzle, ‘n pakkie chippies en ‘n fizzer !

  • 35. Adrie  |  September 9, 2009 om 9 : 25

    Hmmmm

    Seker one time?

  • 36. *Mathilda*  |  September 9, 2009 om 9 : 37

    Jip, maar ek weet SAA doen dit ook op lang vlugte

  • 37. *Mathilda*  |  September 9, 2009 om 9 : 44

    Met watter redery vlieg jy gewoonlik ? My ma glo net aan 1Time want sy het van die begin af met hulle gevlieg

  • 38. Adrie  |  September 9, 2009 om 9 : 51

    Kulula.

    Ek is gek oor hulle, maar hulle is nie juis babavriendelik nie.

  • 39. *Mathilda*  |  September 9, 2009 om 9 : 53

    Ek hou ook van Kulula – hulle is hillarious !

  • 40. Girl van die Suburbs  |  September 9, 2009 om 11 : 19

    Jip…. I love you too!

    Jy het huiswerk….:mrgreen:

  • 41. Olga  |  September 9, 2009 om 11 : 24

    verbaas dit julle dat 60% laerskool-kinders nie kan lees nie? vir my glad nie. kry vir julle anc. julle het geinterblixem met alles wat in n voorheen vooruitstrewende suid afrika gewerk het. so moenie teef oor wat julle opgef.. het nie. creecy, n kind se gedrag is die ouers se verantwoordelikheid. toegegee, maar die feit dat 60% van laerskool-kinders nie kan lees of skryf nie, is die skooldepartement se skuld. julle stelsel van tydrowende en absoluut nuttelose take wat julle uitkomsgerugte onderwys noem, is n flop. die lees en skryf deel van n kind se opvoeding is verondersel om by die skool te gebeur. julle weet, die skool, die deel waarvoor ouers van kinders by voorheen wit skole deur hulle nekke betaal. die plek waar kinders in voorheen swart skole tussen r50 en r150 per jaar betaal. so liewe anc en skool departement, val terug op die np se stelsel. ons wat did deurgemaak het, kon in 2 tale lees en skryf teen die tyd dat ons st.2 (gr4) was. dankie.

  • 42. Olga  |  September 9, 2009 om 11 : 32

    ek hoop die klaer of klaagster in #22 slaap heerlik. wel wetend dat hy of sy die seun se dood veroorsaak het. maar dit klink na ander ras teen kleurling geweld. dalk kwalifiseer dit nie as rassisme nie. wat dink julle?

    # 23 ban die trokke van die pad af. spoorvervoer is net soveel veiliger. al is dit stadiger. dit is baie meer stabiel want jy weet die trein gaan laat wees. dit is ook baie moeiliker om n trein te highjack. lucky luck is te dood om lesse aan te bied in treinjack.

  • 43. Adrie  |  September 9, 2009 om 12 : 19

    Olga

    Ek vra weer, waar gaan almal se belastig geld heen?

  • 44. *Mathilda*  |  September 9, 2009 om 2 : 03

    In fancy karre en huise in vir parlementslede kloon

  • 45. SeeKat  |  September 9, 2009 om 2 : 11

    Adrie

    As jy nie kan sien wat op die oomblik in die land aan gaan nie moet jy brille kry. Die regering spandeer die geld op die twintig 10 verbetirings hulle bou paaie met die geld wat oor is nadat die ander eers hulle sakke vol gemaak het.

  • 46. Adrie  |  September 9, 2009 om 2 : 53

    Seekat

    Net om my aanmerking in konteks te sit.

    Deel van ons belasting geld behoort aangewend te word om vir onderrig te betaal. Om almal te leer lees en skryf.

    Dit gebeur nie op die oomblik nie. Dus kry ons nie waarde vir ons belasting nie. Ek kerm eintlik ook net oor die verval in die onderwys.

    Terloops, ek het brille, dankie.

  • 47. Olga  |  September 9, 2009 om 3 : 55

    juf annie, julle sien steeds nie die prentjie in konteks nie. mod c skole, die euwel waarmee apartheid ons gekniehalter het, betaal vir hulself. maar die probleem met die ongeletterde skool-kinders spruit voort uit die uitkomsgebaseerde kurrikulum wat deur die departement afgedwing word. dit werk nie. punt. die skole skree OUERBETROKKENHEID. wil jy vir my se dat hulle nie weet tot watter mate die ouers betrokke is nie? die ouers doen die werk. juf/mnr kyk na kindjie se gesig, gee punte. gr8. kindjie het sy/haar deel gedoen. hulle het vir moek gese wat die taak behels. en hulle het die taak ingegee. nog ouerbetrokkenheid? moet die ouers die take nog beoordeel en punte toeken ook?

  • 48. Adrie  |  September 9, 2009 om 4 : 24

    Olga

    Ek weet presies wat jy bedoel. Die stelsel werk nie.

    Die geld wat ons daarvoor betaal word gemors. (Dit is my punt).

  • 49. Olga  |  September 9, 2009 om 5 : 43

    en n goeie punt ook.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Trackback this post  |  Subscribe to the comments via RSS Feed


Rosies vir Little Angels

Photobucket
The ARK; Standard bank; Hermanus ReK no: 085133698; Takkode: 050312

Rooflesers

website counter

Liedjie Doring Augustus – Max

Liedjiedorings September

Willes: 100

Olga: 13

Max: 37.5

Wip: 8

Kaneels: 2

Spesies

Potpourri

Posduifhok

amaal3@gmail.com

Gevreetjie Fabriek

http://en.gravatar.com/

Facebook

Dorings en Soms Rose het 'n groep op Facebook gestig. Soek ons gerus op.

Hoe vaar ons?

ZA TOP Sites
saTopBlogs.co.za

%d bloggers like this: