Uiters gewilde onmoontlike onderhoude
Ek het vanoggend vir Nell so ‘n half sarkastiese opmerking gegee en toe begin daar ‘n gedagtetjie in my kop draai. Die pers vertrap gewoonlik mekaar om onderhoude te kry. Hoe grusamer of wreder die daad wat hulle in die tronk gekry het, hoe meer sensasie. En sensasie verkoop koerante en tydskrifte.
Gestel nou dit is moontlik om ‘n uur van Adolf Hitler se tyd in beslag te neem. Hy is in ‘n gemaklike bui en antwoord alles eerlik. Jy is die enigste joernalis by hom. Onthou ook, die koerante gaan mekaar vertrap om die storie by jou te koop. Moet net nie jou kamera vergeet nie. Wat gaan jy hom vra?
Ek sal begin met die snor. Hoekom het hy juis besluit op daardie stukkie snor? Het hy dit nog steeds? Hoekom het hy nie van die jode gehou nie? Het hy vandag berou daaroor? Wat sou hy anders gaan doen het as hy in tyd kon teruggaan? Wanneer het hy besef dat hy beheer oor die oorlog verloor het? Wat het hy gehoop om met die oorlog te bereik? Wie het sy respek met die oorlog gewen? Watter land se leier kon hy nie voor sy oë verdra nie? Het hy homself teen die einde as boos gesien?
Dalk kan ‘n mens ‘n paar meer persoonlike vrae ook in werk. Soos oor sy verhouding met Eva Braun. Waar sy gunsteling vakansie plek is en wat sy gunsteling boek is? Waarheen sal hy graag nog heen wil reis? Wat dink hy van die hedendaagse Duitsers en van wêreld politiek vandag? Wat dink hy van Mugabe?
Veral sal ek wil weet hoe hy die Duitsers so kon opsweep om alle redelike denke te laat vaar.
Wat sal jy van Hitler wou weet? Wie sal jy graag ‘n onderhoud wil voer en wat sal jy hom/haar vra?
Blogvraag: Watter skuilnaam het Hitler gebruik toe hy Eva Braun Oktober 1933 in Munich ontmoet het?
Blogantwoord: Willes was reg met If I ran the Zoo van Dr Seuss.
6 comments September 11, 2009
Die beswaarde onreine waarheid
Nell, regtig, ek het gedink ons is maatjies en nou doen jy DIT aan my.
Enige iets wat jy nog ooit van Adrie wou weet, maar te ordentlik of onordentlik was om te vra, doen dit nou. Speak! Or forever hold your peace. Jy moet jou vraag / vrae in die kommentaar boksie los en ek moet antwoord – daar of in ‘n inskrywing as daar baie vra is. As ek vir een of ander rede nie wil antwoord nie moet ek ‘n snaakse storie opmaak om te vergoed.
Dan het die koei ook soveel mense getag dat ek net vir Adolf Hitler, Dalene Matthee en Elvis Presley oor het om te tag.
Gelukkig kan ek buite die boks dink. Daarmee tag ek dus vir Dellie, Jo-Ann en Nelba.
31 comments September 11, 2009
Pap wiele
Daar is altyd ‘n manier om van iemand se irriterende gewoontes ontslae te raak. Jy kan van jou lewensmaat skei as hulle gewoontes jou nie aanstaan nie. Jy kan mense vermy, hulle vermoor of sommer net siende blind raak. Daar is hoop. Maar wat te duiwel maak jy as jou eie gewoontes jou irriteer?
Iets wat my teen die mure kan uitdryf is my verstrooidheid. As my kop nie aan my lyf vas was nie, het ek dit seker altyd vergeet. Erger, ek sou dit al verloor het. Ek is die mens wat na ‘n vergadering sal gaan, maar die belangrike dokument vir die vergadering by die huis sal los. Ek is al malle sonder tal sonder my selfoon, werk toe. Sonder ‘n selfoon huistoe. My sleutels al in die kerk vergeet. Huis toe sonder my huissleutels.
Dit maak my wiele pap. Daar skort niks met my geheue nie, tog vergeet ek soms om suiker in my koffie te gooi. Dit is ‘n ontnugtering met die eerste sluk, maar dit kan nog gaan. Ek weet egter ek het twee voete. Hoekom sal ek dan net een skoen inpak? Dit maak mos geen sin nie. Dit sal ek gewoonlik ook eers besef wanneer dit te laat is.
Dit is dikwels goed wat net logies is. Ek wag nog eintlik vir daardie dag wat ek met my pantoffels uit sal gaan. Of wag. Ek het een aan in Kies en betaal afgekyk en gesien ek is daar met my PJ broek. Regtig. En toe kom ek agter hoe vreemd die mense my uitkyk. Dit herinner my, ek is al uit ‘n winkel nadat ek betaal het, sonder om my inkopies te vat.
Weet julle hoeveel tyd, energie, chaos, petrol en geld sou ek gespaar het as my varkies mooi in hulle kampie gebly het?
Daar is altyd ‘n possitiewe kant aan enige iets. Weet julle hoe lekker is dit om geld te kry waarvan jy al vergeet het? Veral as dit op ‘n weird plek is? Dit is so goed om ‘n seerowerskat op te spoor, sonder moeite.
Daar het julle dit nou. Waarmee blaas jy jou eie wiele af?
Blogvraag: Waarin is die woord Nerd vir die eerste keer gedokumenteer?
Blogantwoord: Willes was reg met Armani.
21 comments September 10, 2009
Wie dra die broek?
In die jaar 2009, kan ‘n vrou nog tronk toe gestuur word om rede sy ‘n langbroek in die openbaar gedra het. Die meerderheid westerse vroue dra daagliks ‘n broek van een of ander aard. In Soedan is dit onwettig.
Loebna Ahmed al-Hoesein het ‘n moontlike vonnis van 40 sweephoue in die gesig gestaar. Sy kon vir 10 houe skik, maar het besluit om eerder hof toe te gaan. Daar is sy ‘n boete van $200 of ‘n maand tronkstraf opgelê, maar sy het tronkstraf verkies. Volgens Loebna Ahmed al-Hoesein sou sy deur die boete te betaal, waarde aan die klag teen haar geheg het. Intussen het haar baas wel haar boete betaal en is sy op vryevoet.
Die kersie op die koek is dat Loebna Ahmed al-Hoesein die hofverrigtinge in dieselfde langbroek bygewoon het as wat haar oorspronklik in die bollie gekry het. Ek kan nie help om haar moed te bewonder nie. Sy het selfs van haar VN diplomatieke immuniteit afstand gedoen om wel vervolg te kan word. Alles met die hoop om die wetgewing te verander.
Vroue het al meer as ‘n eeu terug begin om langbroeke in uitsonderlike gevalle te dra. Die Wigan Pit Brow meisies het in die 18de eeu ‘n skandaal veroorsaak toe hulle langbroeke werk toe gedra het. Langbroeke was net meer geskik gewees om die fisiese werk in ‘n steenkool myn te doen. ‘n Paar dekades later het meer dames dit op plase, veral om perd mee te ry, gedra. In die dertige jare het was van die groot aktrise dikwels in langbroeke afgeneem, wat die idee van ‘n langbroek meer aanvaarbaar gemaak het.
Tydens die tweede wêreld oorlog het Britanje beperkinge op klere geplaas. Vrouens het toe hulle mans se klere begin dra om hulle klere randsoen vir ander noodsaaklikhede te gebruik. Soos die broeke opgedra is, is hulle met vroulike broeke vervang. Dit is eers in 1960 dat langbroeke werklik ‘n mode item geraak het danksy André Courrèges.
Dit is hier waar dinge nogal in interessant word. In die 60’s het die unisex beweging begin, met die hoop om die klere verskille tussen mans en vrouens uit te wis. Hulle het dus ook probeer om mans so ver te kry om rompe te dra. Dit het klaaglik in die 60’s misluk, al het vrouens die idee van broekdra met altwee hande aangegryp. In die 80’s het verskeie ontwerpers weer probeer en ‘n paar sterre het wel in die openbaar ‘n romp gedra. Weereens wou die mans glad nie aan die idee hap nie.
Dalk het mans nou al meer avontuurlustig geword en is dit nou weer tyd om te probeer.
Ter afsluiting, wil ek graag die stuk uit ‘n brief Pous Nicholas I aan Koning Boris I van Bulgarye in 866 met julle deel.
‘Whether you or your women wear or do not wear trousers neither impedes your salvation nor leads to any increase of your virtue’
Hoe voel julle oor rokke, broeke, rompe en geskikte klere in die algemeen?
Blogvraag: Wie was die eerste ontwerper wat geweier het om modelle met ‘n gewig massa inhoud (body mass index) van laer as 18 te gebruik?
Blogantwoord: Olga was reg met Merino.
64 comments September 9, 2009
Skaap in wolfklere
Ons weet almal teen die tyd dat baie wolwe skaapklere dra. Mense wat ordentlik (gelowig / liefdevol / gerespekteerd) voorkom, kan die grootste varke op twee voete wees. ‘n Mens moet dus nie iemand op gesigwaarde oordeel nie, maar dieper as die oppervlak kyk. In die belang van selfbeskerming sorg ons dat ons dit nie vergeet nie. Tog moet ‘n mens in agneem dat die teenoorgestelde ook waar kan wees.
So ‘n ruk terug het ek met iemand kontak gehad wat my ‘n fliek laat onthou het wat ek as kind gesien het. In die fliek het ‘n tienerseun (as ek reg onthou) ver van die die huis by ‘n kleuterskool gaan werk. In die trek proses het hy sy engelgesig verloor. Op sy eerste dag by die werk, was hy uitgerus in stywe swart leer, hare swart gekleur en in ‘n punk styl gestyleer en swart grimering. Nie iemand wat jy naby jou kleuters wil hê nie. Die skool het geen ander keuse gehad as om hom ‘n kans te gee nie. Hy was ‘n aanwins tot die skool, ten spyte van sy rowwe voorkoms. Teen die einde was almal spyt omdat hy moes terug keer huis toe.
Hoe dikwels word mense nie ten opsigte van hulle voorkoms ‘n etiket toegeken nie. Dit is seker waar dat jou voorkoms ‘n uitvloeisel van jou persoonlikheid is, maar dit is dikwels misleidend. Kyk byvoorbeeld in ‘n raadsaal waar ‘n hoë vlak vergadering gehou word. Die meerderheid van die vrouens gaan in ‘n baadjie pak geklee wees. Hulle gaan almal koel, kalm en berekenend voorkom. Juis omdat hulle vrouens is, sal hulle waarskynlik met daardie gedagte so aangetrek het. Tog gaan almal nie harde, feitlike wesens wees nie. Die vere maak nie altyd die voël nie.
Terug na die eintlike bespreking. Hoe dikwels hoor ‘n mens nie dat ‘n seun wie se broek om sy bobene hang ‘n slapgat is nie. Dit mag dalk vir die meerderheid waar wees, maar ‘n mens kan die enkelinge kry wat karaktervas en dapperder is as die wat voortrekker uniform dra. ‘n Vrou wat haar bates ten toon stel is ‘n slet. Dit kan egter ook wees dat sy die selfvertroue het vir die voorkoms, gemaklik met haarself is en kuiser is as die meisie wat soos ‘n non aantrek. Mans wat ‘n vuil werk doen is voor die voet rof en onbeskof. Tog is dit moontlik dat daar ‘n fyn sensitiewe siel onder die oorpak skuil.
Dit is goed en wel om die wolf in skaapklere te vermy. Tog wil ‘n mens eintlik bevriend word met die skaap en wolfklere. Dit is amper soos ‘n verrassingspakkie, jy weet nooit wat jy gaan ontdek nie.
Blogvraag: Voor die 18de eeu, die uitvoer van watter tipe skaap van Spanje was met die dood strafbaar?
Blogantwoord: Nell was reg met Oliver Twist.
49 comments September 8, 2009
Een woord
Vlam het my gevra om haar in een woord te beskryf. Hier is dit:
- Onpretensieus.
Nou dink Nell mos ook dat sy my kan tag. Hier is haar woord:
- Inspirasie
Goed, nou moet ek 3 mense vra om my in een woord te beskryf. En die gelukkige wenners is:
Die dorings, voel vry om julle een woord opsommings (van wie ookal) hier te plaas. Hier is ‘n voorbeeld:
Liewe Heksie – Dom.
23 comments September 8, 2009
Aanneem kinders
Hierdie is eintlik weer ‘n klassieke geval van hoe klein ‘n mens se wêreld kan wees. Die prentjie wat ek in my kop het van aanneming lyk basies so. ‘n Jong meisie (dus iemand wat nog skool gaan of swot) raak per ongeluk swanger. Sy sien nie kans vir ‘n baba nie en besluit dan om die baba weg te gee. ‘n Maatskaplike werker gaan ‘n elle lange waglys na en besluit op geskikte ouers (wat baie streng gekeur word). Nadat die meisie die baba gehad het, word die kind gebad en aan die geskikte ouers oorhandig. Die meisie en die ouers ontmoet mekaar nooit nie. Sy sien eers weer die baba as hy/sy haar graag eendag wil opsoek.
Dalk ‘n oorvereenvoudiging, ek het darem geweet ‘n mens kry privaat aannemings. Die meisie ken toevallig die ouerpaar wat smag na ‘n kindjie. Een hand was die ander. Haar probleem raak hulle vreugde. Ek het net nooit besef dat ‘n meisie kan help om die geskikte ouers te kies nie.
Die naamloosheid van my prentjie beskerm altwee partye. ’n Skoon breuk is op die ou einde makliker vir die biologiese ma om te verwerk. Tog, as jy jou voortplantingselle gee (dus 50% van ‘n baba) kan jy sekere voorwaardes stel oor die mense wat daarmee gehelp gaan word. Het jy dus nie ‘n sê verdien as jy die baba vir 9 maande dra nie? Maatskaplike werkers het al in die verlede droog gemaak met keuring. Die meeste mense het in elk geval meer vertroue in hulle oordeel as in ‘n vreemdeling s’n. Dit maak dus sin dat ‘n voornemende skenker kan help om die regte ouers te kies.
Ek het die idee in Juno gesien en het gewonder of dit in Suid-Afrika ook moontlik is. Ek het nou nie baie diep gekrap nie, maar dit lyk na ‘n moontlikheid by party agentskappe. Dit word ‘n oop aanneming genoem, die biologiese ma kan self verkies om kontak met die kind te behou na die aanneming.
Aannemings word in die Kinder Versorgings Wet van 1983 omskryf. Maatskaplike werkers moet ‘n kind se taal, kultuur en geloof in agneem voordat daar op ‘n plasing besluit word. Die vraag is nou of ‘n pap baba ‘n taal, kultuur of geloof het? Persone wat getroud is en mense wat saamwoon (insluitende homoseksuele mense) mag gesamenlik ‘n kind aanneem. ‘n Persoon wat met die kind se wettige ouer getroud is, mag ook die kind aanneem. ‘n Mens kan ook as ‘n individue ‘n kind aanneem, mits die minister toestemming gee.
Jy mag nie vir ‘n kind betaal nie, alhoewel daar sekere kostes is wat wel gedek moet word. Slegs kinders wie se ouers (altwee) dood is of wie se ouers (altwee) toestemming gee, mag aangeneem word. Almal weet teen die tyd dat die biologiese pa ook regte het. Hy kan net die regte opeis as hy skriftelik vaderskap erken het. As net een van die ouers toestemming gee, moet die ander een daarvan in kennis gestel word. Hy/sy kan dan toestemming vir die aanneming gee of weerhou.
‘n Pa kan nie op vaderskapregte aanspraak maak as hy die kind verlaat (desert) het en nie opgespoor kan word nie. Hy het ook nie regte as hy nie die kind erken het of sy vaderlike pligte nagekom het nie. Hy het ook nie regte as die kind in bloedskande verwek is of as hy die ma verkrag het nie. As die kinderhof beslis dat dit moontlik is dat hy die ma verkrag het (en hy dus nie vervolg is nie), het hy ook nie regte nie.
Nog ‘n interessante blokkie is dat die biologiese pa sy kind by die ongehude kan aanneem. As ek dit dus reg verstaan (en my inligting is nie verouderd nie), kan hy nie sy regte as vader opeis as hy nie die kind aangeneem het nie. Kan hy dan verantwoordelik gehou word vir sy pligte teenoor die kind? Sou hy wel later met die ma trou, is aanneming nie nodig nie, want met sy huwelik sal wel regte oor die kind kry.
Laastens – die wet vereis nie dat ‘n kind se HIV status aan voornemende ouers bekend gemaak word nie. Baie agentskappe sal dit wel doen. Baie agentskappe sal nie dat HIV positiewe ouers kinders aanneem nie. Dit is egter onwettig om ‘n HIV toets te vereis.
Blogvraag: Boeke: Wie is Edward Leeford (Monks) se halfbroer?
Blogantwoord: Domkrag was reg met John Dunlop.
Vrywaring: Die inligting in die skrywe is nie nagegaan of deur ‘n persoon met regskennis geskryf nie. Dit kan dus nie as ‘n bron aangewend word nie.
71 comments September 7, 2009
Veiligheid op note
Ek is onlangs Supaquick toe om my motor se bande te laat roteer. Daar gekom wys die mannetjie my op elke voorband taamlik aan aan die binnekant van die voorbande is daar bles kolle. Wha ha ha ha lag ek. Hoe kan dit wees? My Fordjie het 23 000 km op die klok. Baie maklik, Mevrou, sê hy. Dit gebeur. Goed sê Homer, vervang met dieselfde as wat op is.
‘Een probleem, Meneer, die patroon op die loopvlak verskil van wat jy op het. ’ Wat se verskil maak dit wonder ek maar voordat ek kan vra; sê hy dat dit nie juis skade aan die ratkas sal doen nie. Volgens hom kan ‘n verskillende maak bande groot skade aan die kar verrig. So gesê, so gedaan. Op is die bande, dis glo ook op spesiale aanbod die week alleen. Swiep – swaaip gaan die kaart deur die masjien en twiet twiet skree Homer se foon. Gapsa het sy geldjies vir Supaquick gegee. Op die masjien en ingestel is die ‘alignment’ en weg is ons.
Tien dae later kon ons laat middag terug van Nelspruit van toe raas die kar lelik. Homer trek van die pad af kyk, die linker voorband is net die randstrole op die rim oor. Die middelgedeelte van die band haal ons op die stadium in. Die band was heeltemal gesnipper. ‘n sny in die loopvlak elke 2 cm.

Homer het teruggegaan Supaquick toe, maar helaas, die bande het nie ‘n waarborg op nie. Die mannetjie het sowaar die vermetelheid om te sê die wiel was pap gery. Hoe dink hy, as dit pap was, was dit omdat hulle dit nie styf genoeg gepomp het nie. Of was dit dalk ‘n minderwaardige band dat dit op spesiale aanbod was? Durf ‘n handelsmerk soos Continental hulle naam op ‘n minderwaardige produk sit? Ons kon verongeluk het. Is die minderwaardige bande dalk die rede vir dit hoë ongeluksyfer?
Blogvraag: Wie het uitgevind dat rubber bande verweer en slytasie beter kan weerstaan terwyl dit beter elastiesiteit bied?
Olga
Blogantwoord: Wild boys – Duran Duran (Olga), Highway to hell – AC/DC (Olga), Devil in Disguise – Elvis (Olga)
Bonuspunte: Olga: Anytime – Janet Jackson; Max: Rebels – Tom Petty; Exotic – Ray J. Willes: The fact is – Jill Scot; No explination – Peter Cetera; Secret - Maroon 5; Want – Disturbed; Pig – Dave Matthews / Seether; Ties that bind – alter bridge; Shock – fear factory; Wild streak – Hank Williams; Relaxed – 4felix; Tame – Pixies; Wolf in sheep’s clothing – Johnny Winter
Foto: Willes: The Cave Priciple – Gamma Ray; Cave in – Owl City; On fire – Switchfoot; Fire – 50 cent; In the fire – Roadrunner United; Who by fire – Leonard Cohen; Sex on fire – Kings of Leon; Feel that fire – Dierks Bently; Inside the fire – Disturbed; Heat – 50 cent; The heat is on – Glenn Frey; Heat – Mariah Carey; The heat – Toni Braxton; Canned heat – Jamiroquai; Disco heat – Calvin Harris; Unusual heat heat – Foreigner; Tiger heat – Ultra Violet Sound; That heat – Sergio Mendes Olga: Fire – Jimi Hendrix / Bruce Springsteen; Burn - Usher; Burning up - Jonas Brothers; We will be burning – Sean Paul; Burning bright – Shinedown
Weens tyd beperkings kon die antwoorde en punte nie betyds vir plasing toegeken word nie. Dit sal binne die volgende 24 uur geplaas word. Die bestuur vra om verskoning vir die ongerief. – AMS.
24 comments September 6, 2009
Wilde Hawer
Dit is ‘n feit soos ‘n koei. Daar is min dinge so aantreklik as wilde knape en poppe. Waarin presies lê die bekoring? Is daar ‘n logiese verduideliking daarvoor?
Die geheim is dalk dat mense altyd alles wil hê wat hulle nie kan kry nie. Dit is ‘n feit soos ‘n koei. Rebelle laat hulle nie maklik bind nie. Almal is welkom om hulle te vergesel op die deurpad na hel, mits daar onthou word dat dit net saamry is. Jy kan op enige plek afgelaai word.
Dalk wil almal self wild wees? Dit is lekker om te skok en in die proses kan jy dalk jou eie wilde streep ontdek. Ontgin en almal wys dat hulle verniet oor jou gerus was.
Dit bly ook eksoties om ‘n ondier te tem. Veral as baie ander al te vergeefs probeer het. ‘n Tipe van ‘n lewendige trofeë wat aan die gemeenskap getoon kan word. Waarmee jy self bewondering kan afdwing.
Aan die anderkant, ‘n mens weet darem wat om te verwag. Daar is mos baie varke wat ordentlik lyk. Wolf in skaapklere soos die ou mense sou sê. Die rebelle is dalk net meer eerlik.
Blogvraag: Identifiseer die liedjies.
Blogantwoord: Willes was reg met Koningin Elizabeth die II.

55 comments September 5, 2009
Moet ek nou beindruk wees?
Almal behoort die liedjie van Shania Twain te ken. That don’t impress me much. Dit gaan basies oor die goed waaroor mans gaande is, maar wat nie juis iets vir haar doen nie. Of soos Sonkind dikwels sê: Geld slaap maar koud.
Mense hou daarvan om ander te beindruk. Al moet die waarheid verdraai word of sommer heeltemaal verkrag word. As hulle dink hulle aansien gaan met 1 mm styg, dan sal hulle dit probeer doen. Dalk is dit omdat mense dikwels minderwaardig voel en hulle self anders wil oortuig.
Daar is ‘n paar beindruk truuks wat my glad nie beindruk nie. Dit pis my sommer net af. Kan ek dalk met die liefdevolle mense begin? Of eerder die wat voorgee om liefdevol te wees. Die verskil is in die stroop. Wanneer jy moet gaan bad nadat jy met ‘n liefdevolle mens gepraat het, moet jy weet dit is nie opreg nie. Hulle soek iets of hulle wil hê jy moet iets vir hulle doen.
Die sogenaamde ryk mense is volgende op my lys. Die wat geld rondstrooi asof die goeie feëtjie vir hulle geld gewaarborg het vir die res van hulle lewens. Dan het hulle soveel duisend vir liefdadigheid gegee en dan het hulle soveel spandeer op ‘n nuwe speelding. Hulle is ook gewoonlik baie meerwaardig teenoor die wat hulle dink minder het.
Volgende is die mense wat hulle vuil humeur adverteer asof dit iets is om op trots te wees. Hulle verloor klaarblyklik nooit ‘n argument nie. Almal bibber en beef wanneer hulle in die omtrek is. Hulle kan doen wat hulle wil, want niemand het die moed om hulle vas te vat. Dit bly verbasend hoe vinnig hulle stert tussen die bene kan verdwyn.
Daar is nog soveel gevalle, maar ek gaan volstaan by diegene wat dink hulle is belangrik omdat hulle vriende beroemd is. Hulle het niks op hulle eie bereik nie en moet op iemand anders se rug ry om iets te kan wys.
Watter tipe mense beindruk jou nie?
Blogvraag: Wie is die huidige monarg van Kanada?
Blogantwoord: Maxie is reg met Zorro wat Vos beteken.
17 comments September 4, 2009
