‘n Man se plek
Baie konserwatiewe mense glo vandag nog dat man die hoof van sy huis is. Die vrou vertolk die rol van sy helper, ten alle tye ondergeskik aan hom. Vir my klink dit na die man is die koning en die vrou (en kinders) sy slawe. Dit blyk ook dikwels die geval te wees. Meneer word van kop tot tone bedien, sy behoeftes word op altyd eerste gestel en hy kan maak en breek soos wat hy wil. Ek is seker dat dit nie is wat met hoof bedoel word nie, maar dit is hoe hopeloos te veel mense dit vertolk.
Baie van die ouer geslag dames het ‘n fyn verdraaiing op hierdie siening gesit. Die man is die hoof en die vrou is die nek. Die nek kan die hoof in enige rigting draai wat sy wil. Dit sinspeel daarop dat ‘n vrou ‘n man na haar pype kan laat dans sonder dat hy eers agterkom dat hy ‘n marionet is. Hy dink hy is die baas, dit is sy besluit, sonder dat hy ooit besef dat sy vrou hom beinvloed het. Goed en wel, as jy ‘n meester manipuleerder is. Ek is nie, daarvoor is ek met hopeloos te min takt, geduld en skelmheid geseën.
Daar is natuurlik ook die Adriana Magrieta Swanepoel siening, wat letterlik uit my duim gesuig is.
‘n Mens kan nie wegredeneer dat die man die hoof is nie. Net so kan ‘n mens nie wegredeneer dat dat ‘n vrou se plek op ‘n man se kop is nie. Hoof is maar net ‘n sinoniem vir kop. As hy weet wat goed is, beter hy die leisels oorgee aan Mevrou en haar elke wens gehoorsaam. Hy moet gesien, maar nie gehoor word nie. Daar wees wanneer hy benodig word en weg voordat hy onder haar voete kan land.
Klink hemels, maar min mans se ego’s sal dit kan hanteer. En om eerlik te wees, min vrouens sal dit kan uitstaan. In die moderne tyd kan jy iemand betaal om in jou elke behoefte te voorsien. Hoekom dan trou? Trou bring verpligtinge, of jy daarvan hou of nie. Jy moet ook jou kant bring. Punt is dat nie lekker is om verdruk te word nie. Hoekom dit dan aan iemand doen vir wie jy lief is?
Dit bring my tot die laaste beeldspraak. As dit soos ‘n preek klink, jammer, maar dit kom ook uit ‘n preek. Eva is uit Adam se rib gemaak sodat sy vir hom ‘n maat kan wees. Nie uit sy kopbeen om op sy kop te sit nie. Nie uit sy voetbeen op op getrap te word nie. Maar uit sy rib, om ‘n venoot gelyk aan Adam te wees.
Dit laat ‘n mens natuurlik weer by gee en neem. Wat hy nie wil gee nie, neem jy.
Hoe voel jy oor die man / vrou se rol in die huwelik?
Blogvraag: Wie het Peeping Tom afgeloer toe hy met blindheid gestraf is?
Blogantwoord: Tilla was reg met Jayne Mansfield.
43 comments July 9, 2009
Die dood van ‘n ikoon
Hulle sê die dood is die een gelykmaker. Die Skoppensboer steur hom nie aan geslag, ras, geloof, ouderdom of sosiale status nie. Jy is een dood skuldig en jy het geen sê oor wanneer jy die skuld gaan vereffen nie.
Dit mog waar wees, maar wat na jou dood gebeur is heeltemaal ‘n ander storie. Veral as nuwe grense gestel het en ‘n legende in jou eie leeftyd geword. ‘n Huishoudelike naam, iemand wat gereeld bespreek is en wie die media ‘n ongesonde belangstelling getoon het. Die dood mag jou vir ‘n oomblik weer mens gemaak het, maar jou begrafnis sal dan wêreldnuus wees. Een van die hoogtepunte van die jaar, baie moontlik dalk ‘n sirkus ook – as jou naasbestaandes nie ‘n wakende ogie hou nie.
Dit is moeilik om ‘n goeie beskrywing van ‘n ikoon te kry. My powere verduideliking is iemand wat die wêreld aan hulle voete gehad het, in so ‘n mate dat die wêreld geglo het hulle is onsterflik en wat dekades, indien nie eeue na hulle dood nog sal voortleef. Daar is vandag nog mense wat glo dat Elvis nie dood is nie, al is hy al amper 32 jaar lank dood. Meer onlangse gevalle is Prinses Diana, Moeder Theresa, Pous Johannes Paulus II en natuurlik Michael Jackson. Nelson Mandela in die toekoms.
Die media en die publiek se reaksie op ‘n ikoon se dood is iets om te beskou. Die wêreld kom tot ‘n stilstand die eerste paar ure na hulle dood. Die doodsberig word elke paar minute uitgesaai en die huldeblyke stroom in. Vir sekeres word die ikoon ‘n mens sonder smet of blaam. Ander gaan weer uit hulle pad uit om te bewys dat die persoon baie geraamtes in hulle kas het. Die publiek neem kennis, of dit nou met afsku, nuuskierigheid of rou is. Party is werklik in sak en as, ander kan nie minder omgee nie, maar almal kyk / lees die begrafnis.
Die daaropvolgende jaar of twee is die persoon weer baie gewild. Elke gerug rondom sy/haar dood word ondersoek en bespreek. Stadig raak dit ou nuus of eerder waai die histerie oor. Die nuutgewerfde en die die-hard bewonderaars herdenk getrou hulle verjaarsdae en dood. Elke 10 jaar is daar weer ‘n oplewing, tot hulle net ‘n belangrike hoofstuk in ‘n geskiedenisboek geword het.
Ek erken dat ek na Diana, moeder Theresa en die Pous se begrafnis gekyk het. Die eersgenoemde twee se begrafnisse moes opgeneem geword het, omdat ek gewerk het. Rou was nie te sprake nie. Selfs nie eers toe Dalene Matthee dood is nie, sy was regtig een van my helde.
Wie se dood het jou geruk? Hoe voel jy oor die vereering van die sogenaamde ikone? Het jy hulle begrafnisse gevolg?
Blogvraag: Watter Amerikaanse aktrise is volgens ‘n stadslegende met ‘n motorongeluk onthoof 29 Junie 1967? (Sy is regtig dood, maar darem nie op so ‘n wyse nie.)
Blogantwoord: Olga was reg met Donna Summer.
122 comments July 8, 2009
Ontkleedanseresse
Glenda Kemp. Dit was ‘n naam wat een keer op ‘n 30 seconds kaartjie was wat ek moes beskryf. Die naam het vir my soveel beteken as was Martha Botha vir my beteken. Eers toe ek agterna baie verontwaardig wil weet wie de hel Glenda Kemp is, sal ek hoor van die slangdanser. Huh? Die vrou en haar slang, Oupa, het blykbaar Suid-Afrika aan die brand gedans in die sewentigs. Waarskynlik Suid-Afrika se bekendste ontkleedanseres. Was dit egter nie vir daardie 30 seconds kaartjie nie, was ek vandag nog nie eers bewus van haar bestaan nie.
Deesdae voel dit vir my asof ek om elke hoek en draai in ‘n stripstorie vasloop. Eers het Special Assignment ‘n program gedoen van hoe ontkleedanseresse uitgebuit word. My vriendin wou haar verjaarsdag vier om na ‘n stripshow te gaan kyk (manlik strippers natuurlik) en nou het ‘n ou stripper ‘n boek uitgebring. Onder andere.
Ek het nog nooit in my lewe na ‘n stripshow gaan kyk nie. Daar was al ‘n paar kere so iets in die pyplyn, maar dit het elke keer deur die mat geval. Ek was nie heimlik bly daaroor nie en ek was ook nie teleurgesteld daaroor nie. Ek sal waarskynlik eendag daarby uitkom, net om te sien waaroor die bohaai gaan.
Soos ek die storie verstaan het mans en vrouens verskillende benaderings sover dit ontkleevertonings aangaan. Die verskil is gesetel in die psigiese verskil tussen mans en vrouens. Mans raak opgewonde met wat hulle sien. Vrouens met wat hulle voel. (Daar is seker heelwat waarde in daardie stelling, die pornografie bedryf is op mans gemik). Die kanse wat ‘n man beheer kan verloor terwyl ‘n danser op die verhoog hom terg, is dus heelwat groter as wanneer die rolle omgeruil is. Van daar die reël dat die danseresse nie aangeraak mag word nie. Vrouens daarteen word aangemoedig om hulle dansers te bevoel.
Dit was blykbaar die reëls, maar dit het intussen tyd glo verander. Baie van die klubs het deesdae privaathokkies, waar dansers privaat vertonings kan lewer. So ‘privaat’ as wat hulle wil, teen die prys wat hulle wil. Die meer konserwatiewe dansers is erg beswaar daardeur, hulle voel dat hulle nie ‘n eerlike bestaan as ‘n ontkleedanseres kan voer nie. Stewige boetes van die klubeienaars en heffings wat hulle aan die klubs moet betaal, dwing hulle na prostitusie. Hulle wil net dans vir ‘n lewe en nie seks verkoop nie. Vandaar die oproep dat ‘n hulle bedryf gereguleer moet word. In Suid-Afrika is stripping ‘n wettige beroep, prostitusie nie.
Ek is eerlik as ek erken dat ek nie ontkleedansery as ‘n edel beroep sien nie. Tog dink ek dit is barbaars om die dames in iets te “dwing” waarmee hulle nie gemaklik is nie. Is daar ‘n verskil daaraan om jou liggaam op sig te verkoop en om dit in die vlees te verkoop?
Die deler is seker net so goed soos die steler. Ek dink die geleendheid besoek aan so ‘n klub is nie iets om oor huistoe te skryf nie. Ek dink wel dit kan ‘n probleem wees as dit jou eerste keuse in vermaak is. Met geleendheid, bedoel ek eintlik ‘n handvol kere in jou lewe. Hoe minder hoe beter. Dit beteken darem nie dat jy soos ‘n nat kous by die huis moet sit met ‘n vriend / vriendin se rams/hennepartytjie nie.
Was jy al in ‘n stripclub? Sal jy ‘n stripshow bywoon? Hoe voel jy oor strippers?
Blogvraag: As wie is beter LaDonna Adrian Gaines bekend?
Blogantwoord: Tilla was reg met Beagle.
531 comments July 7, 2009
Troetelmonsters
Ek het al genoem dat ek nie die grootste diereliefhebber is wat die aarde bewandel nie. Dit is nie asof ek iets teen troeteldiere het nie, ek het immers onlangs besluit om ‘n kat aan te skaf. Wanneer ek eendag huiskoop, wat waarskynlik beteken dat kat-se-kind ‘n paar dekades weg is.
Terwyl Sonkind haar hare wil uitpluk om ‘n babysitter vir die hond te kry, kan ek nie help om te wonder hoe maklik ‘n troeteldier in ‘n troetelmonster kan ontaard nie. Dit is een van my voorwaardes vir ‘n troeteldier, dit moet ‘n plesier wees, nie ‘n pyn in die gat nie. Oor die algemeen is dit nie die dier se skuld nie, maar wel die ongedissiplineerde eienaar se skuld.
Daar is ‘n paar goed wat my teen die bors stuit. Die belangrikste is ‘n dier wat onbeheerbaar is. Die hond is dalk volgens jou net spelerig, maar wanneer sy uitbundigheid ‘n jong kind se nek breek, hoop ek jou nek word ook gebreek. Hoe goed die eienaar sy/haar dier ken, sluit nogal baie daarby aan. Dit is goed en wel om ‘n kwaai hond te besit, maar dan moet daardie hond sy plek ken. Dit is beslis nie voordelig vir enige iemand as die hond almal wil byt wat binne ‘n meter radius van jou kom nie. As die hond 24 uur ‘n dag blaf, is dit ‘n aanduiding dat hy ‘n pyn in die gat is. Dit maak nie van hom ‘n goeie waghond nie.
Honde en katte eet wanneer mense klaar geëet het. Anders eet hulle elders van waar mense eet. Dit is ongeskik as hulle kom bedel, beslis nie oulik nie. Dit is afstootlik as die hond saam met jou van een bord af eet of saam met jou koffie uit dieselfde beker uit drink.
Tensy jy jou hond of kat sover kan kry om in die toilet hulle ding te doen, moet hulle geleer word om dit buite te doen. Wees verseker daarvan dat almal van jou huis sal praat as dit na kattepie ruik. Donker kolle op die mat vertel ook ‘n storie. Verskoonbaar as die dier nog jonk is of te lank toegemaak is, maar niemand gaan vir ‘n verduideliking vra nie. Niemand gaan dink jy is lief vir jou diere as hulle vol peste is nie. Maak ‘n plan!
As jy allerhande vreemde gedrogte wil aanhou vir jou plesier, maar seker dat hulle die regte akkomodasie het. Min mens gaan gemaklik op ‘n bank kuier terwyl slang daar onder ‘n uiltjie knip. Jy dink hy sal nie pik nie, weet hy ook dat hy nie sal pik nie?
Laastens, diere wat teen mense of karre opspring. Dit mag blydskap wees, dit mag net speel wees, maar die naels krap seer. Dit krap die motors ook.
Wat van troeteldiere grief jou? Is jy, as gas enigsins geregtig om ‘n grief teenoor ‘n troeteldier te hê?
Blogvraag: Watter tipe hond is Snoopy (Peanuts)?
Blogantwoord: Olga was reg met Pisa, in Toskane, Italië.
240 comments July 6, 2009
Gesig van stede
Daar kan seker geredeneer word dat ‘n stad se mense oorsprong aan sy karakter gee. Dit is waar, maar die gesig van ‘n stad is gewoonlik te danke aan een of ander struktuur. Selfs meer as een.
Soos in New York. Tot 11 September 2001 wat Die Twin Towers een van landmerke van die stad gewees. Op ‘n stadium die hoogste geboue in die wêreld, dit het langer as 8 maande geduur, terwyl daar 24 uur ‘n dag gewerk is, om dit skoon te maak na die tragedie. Die bekenste landmerk in New York is seker die Lady of Liberty. Geleë in die New Yorkse hawe op Liberty Hawe, sal dit beslis iets wees wat ek sal besoek as ek ooit in New York is. Die Hollywood teken is weer ‘n kenmerk van Los Angeles.
In Europa is daar natuurlik ‘n hele paar. Parys is seker ‘n goeie plek om te begin. Vlieg ooit daaroor en ek waarborg jou dat jy jou nek sal verrek om die Eiffeltoring te sien. Die Arc de Triomphe verdien seker ook om genoem te word. In London is daar die Big Ben en die London Towers. In Rome is daar die Colosseum sowel as ‘n hele paar belangrike kerke.
Rio de Janeiro het die Christus Beeld. Wat hoog bo ‘n koppie oor die stad waak. Indië het weer die Taj Mahal. Sydney se landmerk is weer die opera huis.
In Kaapstad praat die mense van die Sout en Pepper potte. Verkoeltorings wat langs die snelweg staan. Kaapstad se bekendste landmerk is seker maar Tafelberg. In Johannesburg word daar weer met die Orlando torings en die Hillbrow Toring gespog. In Pretoria flankeer die Voortrekker Monument weer die heel tyd met die Uniegebou.
‘n Prentjie van een van die landmerke is meer as genoeg om die stad mee te identifiseer. Hoeveel van hulle het jy al met jou eie oë gesien? Hoeveel wil jy met die hand gaan groet? Watter landmerke verdien om genoem te word, maar skitter in hulle afwesigheid?
Blogvraag: Waar sal ‘n mens die Toring van Pisa vind?
Blogantwoord: Treasure – Tree 63 (Skat – nee, Olga, jy het nie eers geweet dat dit ‘n liedjie is nie), Colourful – Parlotones (Maxie), Wise Men – James Blunt (Olga). Bonuspunte: 4th of July – Sound Garden (Olga); People – Barbra Streisand (Olga); No Secrets – Angels (Olga); Darlin’ – Tom Jones (Olga); The Core – Eric Clapton (Olga); The Riddle – Nik Kershaw (Max); Today – The Smashing Pumpkins (Max); Couldn’t care less - Barenaked Ladies (Olga); In The Secret – Chris Tomlin (Olga).
197 comments July 5, 2009
Popquiz kuns
Vandag vier Amerika 4th of July. Is daar ‘n 4th of July in Engeland?
As jy nee geantwoord het, is die post vir jou. Natuurlik het Engeland, soos die res van die wêreld ‘n 4 Julie. Al vier Engeland nie Independance Day nie.
Dit is geen geheim dat ek mal oor vasvrae nie. Raaisels ook, maar nie die tipe waarom speurverhale draai nie. Ek kan nie minder omgee wie die moord gepleeg het nie. As ek raaisels moet doen, soek ek ‘n skat as beloning. Atlantis sal ook doen, aangesien die Kruger miljoene seker net ‘n klug is. Ek sal ook glad nie omgee om die die raaisel omtrent die vermiste meisies op te los nie, maar nou dwaal ek van die punt af.
Die sleutel om ‘n vraag te beantwoord, of om self ‘n raaisel op te los is om die vraag of die leidraad reg te verstaan. Om die misleidende rompslomp weg te gooi en te kyk na wat dit regtig gee of vra. Dit is die aanduiding van hoe kleurvol jou antwoord moet wees. Dit is natuurlik baie makliker in ‘n vraestel, die punte is ‘n goeie barometer. Vasvra is nie so gebruikersvriendelik nie.
Jy hoef nie een van die drie wyse manne te wees om dit reg te kry nie. Dit is meer ‘n tegniek as waarlike wysheid, iets wat met oefening oor tyd verbeter kan word. Hoe meer jy met die goed speel, hoe makliker raak dit.
Die tegniek is nie net belangrik om van jou ‘n flinkdinker te maak nie. Dit help jou ook om mense te verstaan. Om tot die kern deur te dring en jou nie met onbelangrike detail of onsinnighede te flous nie. Dit is die geheim tussen ‘n A en ‘n C. Die verskil tussen gemiddeld en briljant.
So, hoeveel diere het Moses by die ark ingeneem?
Blogvraag: Identifiseer die liedjies.
Blogantwoord: Olga was reg met Barkley’s (Bank), Engfield, Engeland.
76 comments July 4, 2009
Die brein se raklewe
Nou die dag toe ek in die koue sit en wonder hoekom ‘n mens nie kan hiberneer nie, besef ek toe dat die mens se brein net ‘n sekere rakleeftyd het. Dit was oorspronklik so om en by 30 jaar gewees. Die mens was toe bang hy mis iets en het met allerhande planne vorendag gekom om langer rond te hang. Die brein moes byhou en die heelal het gereeld nuwe uitdagings voor die brein gegooi. Dit het meegebring dat die oorspronklike raklewe stelselmatig langer en langer geword het.
Eers was dit ‘n free for all gewees. Mans kon met soveel vroue trou as waarvoor hy kans gesien het. Hy kon self byvroue neem vir ekstra plesier. Kinders by dosyne was nie as ‘n grap bedoel nie, dit was sy lewenstaak. Natuurlik moes hy hulle almal se name onthou het en onthou het wie is hulle ma’s. Die ma’s moes mekaar seker onthou het en mekaar uitgehelp het om die kinders te beheer. Al die kinders moes mekaar se name onthou het en moes onthou waar wie verklik moes word. Na 50 jaar was die dood seker ‘n verlosing gewees.
Die mens het besef dat dit uitputtend is. Eers is die vroue verminder, tot daar meestal net een was en later die kinders ook. 50 jaar het skielik so min gelyk. Daar is soveel om te ontdek, insluitende vyande. Jy moes onthou met wie baklei jy en hoekom baklei jy met hulle. Met wie het jy vrede gemaak en wie is jou bondgenote. Van waar elkeen is en wie hulle goed of kwaad gesind is. Hoe jy iemand kan bevark, sonder om self uitgvang te word. Die brein se raklewe is verleng tot 60 jaar.
Die mens het egter besef dat dit lekkerder is om te drink as om in die koue te gaan baklei. Dit was nie net genoeg om jou vriende te onthou nie, maar jy moes ook onthou waar om hulle te kry en al die mense aan wie hulle verbind was. Jy moes hulle verjaarsdae en uitnodigings onthou. Jy moes hulle voorkeure en afkeure leer ken het. Dit het nie die brein te veel oefening gegee nie. Die heelal het Alexander Bell met ‘n idee laat wakkerskrik. Almal het telefone gekry. Jy moes eerstens jou eie lui onthou het en dan moes jy onthou het om ander te bel. Later moes jy ‘n string nommers onthou het. Dit het die raklewe van die brein na 75 jaar verleng.
Die mens het sy gerief weer onthou. Hy kon die nommers neerskryf en automatiese sentrales ontwikkel. Later het hy die telefoon in sy sak rond gedra, met al sy bruikbare nommers daarop. Dit kon self verjaarsdae onthou het. Die brein kan egter nie agteruit nie. Dit moes nog ‘n hindernis oorkom. Die koms van wagwoorde, PINS en kodes. Alles goed wat nie (wel, nie veronderstel is) neergeskryf kan word nie. ‘n Kode om die huis/kantoor te verlaat of binne te gaan. ‘n Wagwoord om toegang tot jou eie rekenaar / epos / rekening te kry. ‘n Kode om deure oop te maak, ‘n kode om jou eie selfoon aan te sit, ‘n PIN om jou eie geld te kry. Daarmee is die brein se raklewe tot 90 verleng.
Volgende? Ons sal maar moet wag en sien.
Blogvraag: Waar (bank, dorp, land) was die eerste elektroniese ATM op geinstalleer?
Blogantwoord: Tilla was reg met Caleb Bradham.
86 comments July 3, 2009
Kokaiene en Kaffiene
Baie beter bekend as Coca Cola of sommer net pleinweg COKE.
Ek is nie ‘n Coke slaaf nie, ek drink net in uitsonderlike gevalle skoon coke. Ek ken wel baie mense wat meer Coke ‘n dag drink as die voorgeskrewe hoeveelheid water. Ek ken self mense wat meer van Coke as van suurstof afhanklik is. Wat dit drink soos ander mense ‘n oggendkoffie geniet. Hulle drink dit voordat hulle gaan slaap. Ek dink hulle borsel tot hulle tande daarmee.
Cocawine was deur John Pemberton in 1885 ontwikkel om as ‘n medisyne gepatenteer te word. Wetgewing ‘n jaar later het dit verbied, waarna hy dit as ‘n koeldrank bemark is. Dit was oorspronklik van ‘n apteek verkoop, juis omdat mense geglo het dat soda water gesondheidsvoordele inhou. Volgens Pemberton was dit ‘n middel wat onder andere hoofpyn, impotensie en morfien verslawing genees het. Pemberton was, ironies genoeg jare later steeds aan morfien verslaaf.
Asa Griggs Chandler het ‘n aandeel in Pemberton se Coca Cola Maatskappy bekom in 1887. Pemberton het dit later weer aan ‘n groep besigheidsmanne verkoop en sy alkoholis seun het sy eie weergawe daarvan verkoop. Volgens Pemberton was net sy seun daarop geregtig gewees om die naam Coca Cola te gebruik. Chandler het dit onder ‘n ander naam probeer verkoop, maar nie juis sukses behaal nie.
Hy het alleenreg op die naam gekoop, sommige beweer met ‘n slenter, en die Coca-Cola maatskappy soos ons dit vandag ken gestig. Vandag nog maak hulle die stroop wat wêreld versprei word om deur ander maatskappye aangemaak en gebottel te word. Die formule word in die Sun Trust Bank se kluis gehou. Net twee uitvoerende beamptes het toegang tot die formule en anders wat dikwels beweer word, ken hulle elkeen die hele formule.
Coca-Cola word van van die twee stimulante in Coke afgelei, naamlik Coca blare (wat kokaien bevat) en Kola blare (wat Kaffien bevat). Oorspronklik het Coke wel kokaien bevat (9 mg per glas), self nadat Chandler dit 10 keer verminder het. Sedert 1903 bevat Coke egter nie meer kokaien nie. Die Coca ekstrak word van Stephen Maatskappy (die enigste maatskappy wat wettig kokaien kan invoer na Amerika) verkry, wat kokaien vir die mediese mark uit die blare onttrek.
Enige Coke aanhanger sal jou kan vertel dat Kola drankies nie noodwendig Coke is nie. In 1985 het die Coca Cola maatskappy ‘n nuwe Coke op die mark gesit. Verbruikerstoetse het getoon dat mense dit bo ander Kola’s, insluitende Coke verkies. Dit het egter ‘n storm veroorsaak, mense het die ou Coke terug geëis. Die maatskappy moes doodeenvoudig terug verander het.
Coke proe blykbaar nie dieselfde van een bottelaar na ‘n ander nie. Volgens Coca-Cola is Coke wat in Skopje, Macedonia gemaak is die lekkerste.
Is jy mal oor Coke?
Blogvraag: Wie het Pepsi ontwikkel?
Blogantwoord: Willes was reg, Dias het verdrink.
194 comments July 2, 2009
Robinsina Crusoe
‘n Paar eeue gelede, toe Europa van hulle room (lees Suid-Afrikaners) en skuim (lees Australiërs) ontslae geraak het, was die kanse goed dat die skip sou vergaan. Die ou, baie bygelowige, seevaders het so na as moontlik aan die land gevaar. As daar moeilikheid sou kom, was daar die moontlikheid dat hulle wel die land sou kon bereik. (Hulle was natuurlik ook bang om van die aarde af te val, maar dit is ‘n ander storie).
Ons het gevestig geraak in ons nuwe vaderlande. Eers het ons niks in Europa (of elders) gesoek nie, toe was ons te arm. Stadig maar seker het ons wêreldburgers geraak. Vlieg het omtrent so allerdaags geword soos klim-in-jou-kar-en-ry-Spar-toe. Tot baie onlangs. Eers het die resessie mense langtand gemaak om te vlieg en nou val vliegtuie soos klei eende uit die lug.
Gestel wel jy is een van die bittergelukkiges was na so ‘n fiasko op ‘n eiland uit te spoel. Vingeralleen!! Wat dan?
Ek neem aan ‘n mens sal seker maar doen soos Robinson Crusoe. Red wat te redde is en hoop dat dit jou wel sal red wanneer dit nodig word. Vol hoop die bosse invaar met die verwagting om ‘n ander mens teë te kom. Hardbiddende dat die mens jou goedgesind gaan wees. Terselfde tyd die omgewing ‘n bietjie verken. As dit nie uitwerk nie, is dit tyd vir plan B.
Jy sal seker ‘n skuilintjie prakseer en hoop dit is bestand teen die elemente. Ek neem aan jy sal ‘n lekker uitkykpunt soek en daar ‘n vuurstapel bou. Met droë hout wat jy tussenin gesoek het. Dan gaan jy begin sukkel om ‘n vuurtjie te maak. Vir hoe lank dit mag neem, dit is nou nie asof jy iets beters het om te doen nie. Elke nou en dan gaan jy jou vererg en dink aan ‘n plan C. Terwyl jy natuurlik na vars water en kos soek. Weer en weer probeer, welwetende dat dit dalk jou enigste hoop is.
Wanneer jy die vuur bemeester het en nog steeds nie gered is nie, gaan jy seker probeer om jou omstandighede te verbeter. Maar wat dan? In vandag se lewe is ons nie meer op onsself aangewese om vermaak te word nie. Ons is gewoond aan selfone in die sak en ‘n rekenaar onder die arm. Wat doen ‘n mens op ‘n eiland waar jy dalk nie eers pen en papier het nie?
Ek dink dat jou bont varkies gou-gou soek gaan raak. Dit is nou as jy solank oorleef. Ek meen, jy het niemand om mee te praat nie. Jy is afgesluit van mense en het geen voeling wat in die wêreld aangaan nie. Geen musiek, geen leesstof, geen kameras, geen TV . . .
So dikwels word die idee van ‘n verlate eiland geromantiseer. Ek vir een hoop nie ek land onbepland op een nie.
En julle?
Blogvraag: Hoe is Bartolomeu Dias dood?
Blogantwoord: Olga was reg met Tatum O’Neal. Tilla was reg, sy het dit vir Paper Moon gekry toe sy 10 was, maar dit was nie deel van die vraag nie.
178 comments July 1, 2009
Kinderpartytjies
Met Baba Jana wat more 7 word, kan ons seker vandag oor kinderpartytjies praat. Die snotneus sal ons seker kom vertel van hoe dit nou eintlik werk.
My ma het wel vir ons partytjies gehou toe ons klein was. Dit was tot sy uitgevind het dat Wimpy soveel minder moeite is, maar dan het ons nog steeds ‘n keuse tussen ‘n partytjie en ‘n ete in die Wimpy gehad. Die ete in die Wimpy het glad nie beteken dat daar nie koek was nie. Koek is net so groot deel van verjaarsdae as die geskenke self.
Van geskenke gepraat, die verjaarsdagmeisie /seun het altyd twee geskenke gekry. ‘n Groot een en ‘n klein een. Al die boeties en sussies het saam ‘n kleintjie gekry, net sodat daar nie ‘n bakleiery moet wees nie. Die storie het net gehou tot ons op sakgeld aangedring het en toe self vir die verjaarsdagboetie/sussie ‘n geskenk moes koop. Die verjaarsdagmaatjie sou jou met ‘n sny koek beloon het.
Vandag nog is die koek ‘n groot storie, of ons by die huis is of nie. Ons is seker geseën met ‘n ma wat goed kan bak en nie omgee om aan ons grille te voldoen nie. Ek soek nog steeds elke jaar my wortelkoek en ek kry nog elke jaar my wortelkoek. Elkeen van ons het natuurlik hulle eie gril wat die koek betref.
Wel, terug na die tyd waar ons haasbekke met stukkende knieë was. Ons kon altyd ‘n paar maatjies van skool nooi. Die ander gaste was familievriende, niggies en nefies. Hulle was gewoonlik met ‘n uitnodiging uit ‘n skryfblok genooi gewees. (Die skryfblok het sommer daarna as ruilpapier gedien). Ons het twee koeke gehad. Een temakoek en een wat ons ouderdomsgetal was. Daar was natuurlik southappies, soethappies (het ek genoem dat my ma ‘n goeie bakster is?), lekkergoed, skyfies en springmielies gewees om die hele dorp te voed.
Ons het onsself natuurlik eers knuppeldik geëet en daarna gespeel. Die gaste se geskenke is oopgemaak soos hulle daar geland het. Kaartjies was baie gewild en daar het gewoonlik ‘n blou of ‘n pers noot in weggekruip. Die dag wat dit ‘n groen noot was (soos in R10), was jy superryk gewees. Ek het een verjaarsdag R17 so by almal gekry en dit was genoeg vir ‘n silwer hangertjie. Speletjies was goed soos vrot eier, open-the-gate en natuurlik koljander.
Dit was natuurlik voor die dae waar almal balonne op die hek vasmaak en springkastele huur. Hoe was jou kinderpartytjies en wat se partytjies gooi julle vir julle kinders?
Blogvraag: Wie was die jongste Oscar wenner tot op datum?
Blogantwoord: Olga was reg met Land en Volk.
Baie geluk met jou verjaarsdag, Baba Jana.
170 comments June 30, 2009
